Dit het aanleiding gegee dat die begroting in wyksverband ontleed is. Rdl dr Joan Prins, (voorsitter, finansies portefeulje komitee en uitvoerende burgemeesterskomiteelid) was hiermee getaak. In haar verslag noem sy dat daar in gedagte gehou moet word dat dit die raad se beleid is om te begroot volgens die beginsel van dringende behoefte en nie volgens eweredige verdelings, terugploeg van fondse waar dit gegenereer word of die nice to have beginsel nie.
"Vir doeleindes van ontleding is die kapitaalbegroting van R70 860 935 opgebreek in drie groot kategorieë van dienslewering, administratiewe en ondersteunende dienste en ander dienste".
Noodsaaklike dienste
Hessequa se hooffokus is dienslewering wat insluit water, riool en sanitasie, elektrisiteit en vullisverwydering. "Om hierdie dienste te lewer word infrastruktuur van miljoene rand vereis. Daar moet in ag geneem word dat van die infrastruktuur in spesifieke wyke gevestig is, maar ook omliggende wyke bedien, terwyl ander weer inwoners dwarsdeur Hessequa bedien". Prins bevestig dat sowat 40% (R19 miljoen) van die begroting aan elektrisiteit bestee gaan word en spesifiek aan opgradering van die kraglyn na Melkhoutfontein en Stilbaai. "Dit trek die begroting skeef, maar dan moet in ag geneem word dat die besteding ook tot voordeel van die inwoners van Melkhoutfontein is en behuisingsuitbreiding in daardie dorp moontlik sal maak. Dit bevoordeel ook Jongensfontein".
Slotsom toedeling van wyke
Daar is twee persentasies uitgewerk per wyk; persentasie toekennings van elke wyk se toekenning in die begroting, asook persentasie toekennings aan elke wyk sonder die elektrisiteit toekenning aan wyk 1 en 3. Verwys na tabel hiernaas vir duidelikheid.
