Update
WITSAND NUUS - Anrich Oktober (20) is Woensdag 17 Januarie deur Hessequa-munisipaliteit vir sy heldedaad gedurende November verlede jaar vereer nadat hy vir Ethan Klim (15) uit die see gered het.
Anrich het vertel: "Ek en Ethan het saam in die see geswem. Ons het nou en dan uitgegaan en dan weer gaan swem.
"Ek was weer op pad uit toe Ethan moontlik in 'n gat getrap het. Die water het teruggeslaan en hom dieper in die see in getrek."
Ethan se ma het aanmekaar na hom geroep.
Die oomblik toe Anrich hoor dat Ethan se ma hom roep het hy gesien dat hy reeds agter die 10de baan is.
"Ek het dadelik omgedraai om hom te gaan help. Ek het verder en verder ingeswem totdat ek by uitgekom het.
"Hy was toe klaar moeg en tam. Wanneer daar 'n brander kom het ek vir Ethan voor my uitgestoot sodat die brander hom vorentoe kan druk.
"So het ek aangehou totdat hy kon staan. Ek het toe tot op die strand gehelp.
Die NSRI se stasie 33 Witsand Port Beaufort is dié dag ingelig dat twee persone deur 'n sterk stroom by Witsand se hoof swemstrand in see ingetrek word.
Met aankoms het hulle vir Anrich en Ethan in die parkeerarea gesien. Alby het tekens van sekondêre verdrinking en skok getoon.
Hulle is op die toneel deur NSRI paramedici gestabiliseer en onder observasie gehou totdat die EMS-ambulansdienste op die toneel aangekom het.
"Ek het op 'n plaas gewoon en dit is waar ek leer swem het. Ek is baie lief vir swem en swem gereeld by Heidelberg se swembad."
Hy bly ook fiks deur gereeld te draf en ander liggaamsoefeninge te doen. Wanneer hy kans kry om see toe te gaan swem hy ook altyd in die see.
Anrich het 'n toekenning deur die burgemeester, Grant Riddles, ontvang wat vir hom gesê het dat hy baie trots op hom is en waardeer wat hy gedoen het.
Lees 'n vorige artikel: Inwoner word as held vereer
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'