ALBERTINIA NUUS - Hessequa-subdistrik se departement gesondheid en gemeenskapsdienste, in samewerking met Hessequa-munisipaliteit se sosiale en gemeenskapsontwikkelingdienste, het op Woensdag 30 November 'n suksesvolle program ter bewusmaking van geslagsgeweld teen vroue en dogters in die Theronsville-gemeenskapsaal aangebied.
Die program was in die vorm van 'n middagtee waar verskeie belanghebbendes die plaaslike gemeenskap bemoedig het met toesprake, dans en sang om vroue teen geslagsgebaseerde geweld te bemagtig.
Die kernboodskap van elke toespraak was selfliefde, selfwaarde en om die stilte teen hierdie euwel in die gemeenskap te verbreek. Diegene teenwoordig kon met die nodige hulpmiddels hulself geestelik en emosioneel bemagtig en verryk.
Die aanbieders bedank die geleentheidspreker, Soekie Sandra Krog, die Albertinia-gemeenskap asook elke rolspeler en donateur vir hul waardevolle bydrae om beter gemeenskappe te bou.
Inwoners van Albertinia met hul pryse wat hulle in 'n gelukstrekking gewen het.
Die St. Lukes-dansgroep het in Albertinia se Theronsville-gemeenskapsaal by die program ter bewusmaking van geslagsgeweld teen vroue en dogters opgetree.
Verteenwoordigers van Hessequa-subdistrik se departement gesondheid en gemeenskapsdienste en Hessequa-munisipaliteit se sosiale en gemeenskapsontwikkelingdienste het ook die program bygewoon.
Foto's: Heinrich Fortuin
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'