ALBERTINIA NUUS - 'n Afvaardiging bestaande uit die raadsvoorsitter, Schalk Burger, en drie bestuurslede van Shiloh Synergy wat die Shiloh-skole in die Wes-Kaap bedryf, het Maandag 27 November dié dorp besoek om die gemeenskap oor die Shiloh-skoolleerplan in te lig.
Opvoeding en onderrig in Shiloh-skole in die provinsie fokus tans op die gebalanseerde opvoeding en ontwikkeling van kinders van drie tot vyf jaar oud ter voorbereiding van gr. R.
Die totale leerprogram (wat nie hier volledig aangebied word nie) dek egter die hele opvoedingsproses vanaf die vroeë kindontwikkelingstadium tot die einde van hoërskool.
Die program is gebaseer op die uiters suksesvolle Montessori-leerprogram wat sedert 1897 in Italië ontwikkel is deur dr. Maria Montissori en haar medewerkers.
Dit berus op Bybelse beginsels, goeie dissipline en effektiewe leer- en onderrigmetodes. Hierdie program is besonder onderwyser- en kindervriendelik en word internasionaal aangebied.
Leerareas
Leerareas wat in die Shiloh-skole behandel word met kleuters van 3 tot 6 jaar sluit in;
- Bybelonderrig aan hand van die skeppingsverhaal
- Aspekte uit die praktiese lewe soos byvoorbeeld die watersiklus, basiese biologie van plante, diere en die mens, die waardekettings vir die voorsiening van onder meer hout en suiwelprodukte
- Sensoriese en spierontwikkeling
- Taalvaardighede
- Wiskunde
- Kultuur en kuns
Die leuse van die program is 'Beauty, excellence, order'. Kinders word in hul moedertaal onderrig terwyl alle leerders ook Engels leer.
Boy van Rensburg van Albertinia tydens die vergadering.
Onderwysers word uit die gemeenskappe gewerf waarvan die kinders 'n Shiloh-skool bywoon.
Voornemende onderwysers word oor 'n drie maande periode opgelei om die gebruikersvriendelike hulpmiddels wat in die skole gebruik word aan te wend.
Persone wat hierdie opleiding gekry het, kan dan ook in enige Shiloh-skool internasionaal werk.
Niks word vir die kinders gedoen wat hulle self kan doen nie.
Dus word pligte wat verband hou met persoonlike higiëne, die voorbereiding van voedsel en netheid van hul leerareas aan die kleuters self oorgelaat.
Drie basiese reëls geld vir elke kind en onderwyser, naamlik respek vir mekaar, respek vir die apparaat wat gebruik word en elke ding het 'n plek, en elke ding op sy plek.
Bywoning van die skool vereis dat skoolgeld betaal word vir elke kleuter. Skoolgelde vergelyk baie goed met die tariewe wat tans op Albertinia betaal word.
"Sowat 12 persone uit die dorp het Vrydag 3 November 'n Shiloh-skool op Klipheuwel buite Malmesbury besoek, asook die Shiloh-hoofkantoor in Brackenfell.
"Dit was 'n ongelooflik positiewe ervaring wat vir elkeen van ons lewenslank sal bybly.
"Nou oorweeg ons die moontlikheid om so 'n skool ook hier te vestig en dit was die rede vir die afvaardiging se besoek aan die dorp," vertel Boy van Rensburg.
Wanneer 'n Shiloh-skool gevestig word, ontwikkel die hele gemeenskap.
Die kleuters het ook 'n baie sterk positiewe invloed op die funksionering van die huisgesin na aanleiding van hul ervarings by die skool.
Normaalweg ontwikkel 'n gemeenskapsentrum nadat die skool gevestig is.
By hierdie sentrums word vaardighede ontwikkel vir tuinmaak, handwerk, geletterdheid en rekenaargebruik.
Na afloop van die vergadering is 'n projekkomitee aangestel om die projek verder te dryf.
Arita Terblanche is die sameroeper en sy kan gekontak word by 061 542 3192 of roshandaterblanche@gmail.com vir meer besonderhede.
Meer inligting oor Shiloh Skole is beskikbaar op hul webblad by www.shiloh.org.za.
ARTIKEL & FOTO: HEINRICH FORTUIN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'