HESSEQUA NUUS - Boere moet te midde van die inperking weens Covid-19 veiligheid op twee fronte handhaaf.
Hulle moet waak teen die koronavirus én misdadigers wat die virus as verskoning kan gebruik om plase te betree.
Piet Lourens, suiwelboer, sê die huismense en werkers word teen die virus beskerm deur sover moontlik kontak met ander te vermy.
"Geen werkers wat op die dorp woon mag op die plaas kom nie. Ons laat ook nie ons plaaswerkers dorp toe gaan nie. Hulle skryf vir ons 'n 'briefie' - 'n lys van goed wat hulle nodig het - en ons gaan haal dit self op die dorp."
Selfs hul huishulp wat op die plaas woon, werk nie op die oomblik nie. "Sy kry haar salaris, maar ons wil nie nou enige risiko loop nie."
Die werkers op die plaas word aangemoedig om algemene higiëne te handhaaf en gereeld hande te was.
Jan-Hendrik Joubert, wat 'n gemengde boerdery bedryf sê hy laat ook net die werkers wat op die plaas woon, toe om te werk. "Ons het die huishulpe wat op die plaas en in die dorp woon, gevra om nie nou in te kom nie."
'n Huishulp van 'n ander plaas wat nie haar naam genoem wil hê nie, het gesê: "Die meneer het gesê ek moenie inkom nie en hy gaan my nie betaal nie. Hy sê die virus is nie sy skuld nie."
Van die boere is nie bekommerd oor misdadigers nie. "Ek kan sommer van ver af sien as hier iemand aankom wat nie hier hoort nie, want niemand het nou nodig om êrens heen te gaan nie," sê Lourens. Joubert sê hy doen niks meer as gewoonlik om huis en haard te beskerm nie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'