HEIDELBERG NUUS - 'n Sewejarige kleuter het vroeg Saterdagaand, 4 Julie net na 18:05, sowat 8km buite Heidelberg gesterf, toe die motor waarin hy 'n passasier was die pad verlaat en omgeslaan het.
Eldino Saaiman, 'n graad 1-leerder van Vondeling Primêre Skool buite Witsand was blykbaar saam met sy ouers op die R322 Witsand-pad toe sy pa beheer oor die motor verloor en dit in die landery langs die pad tot stilstand gekom het.
Eldino het op die toneel gesterf.
Drie ander passasiers is in die hospitaal, waarvan twee in George en een op Riversdal opgeneem is. Een van hulle, 'n jongman, is met ernstige nekbeserings steeds in George-hospitaal.
Volgens ao Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder, word 'n klag van strafbare manslag ondersoek. 'n Outopsie sal ook gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal. Die onder-soek duur voort.
Eldino se ma, Honey, vertel hartseer dat haar jongste seun die vorige dag, Vrydag, 3 Julie sy sewende verjaarsdag gevier het. "Hy was voorwaar 'n ligstraal in ons huis. Jy het onmiddellik geweet wanneer hy in die huis is. Hy was 'n terggees soos min. Ons gaan hom verskriklik mis," het sy bewoë Sondagmiddag gesê.
Jenay Esau, sy pa se suster, vertel dat Eldino 'n baie liefdevolle en spontane kind was wat nie gehuiwer het om sy sê te sê nie. "Hy was enig in sy soort en ek gaan hom baie mis."
Buiten sy ma laat Eldino sy pa Cashwill, broer Ashwill en oupa, Louis Saayman agter.
Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
Eldino se ouer boetie, Ashwill en sy ma, Honey Saaiman. Foto's: Clive Pretorius
Die motor waar dit in die landery tot stilstand gekom het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'