Update
RIVERSDAL NUUS - Lauren-Lee Carolissen van Riversdal ly aan mastositose (mastocytosis), 'n baie rare velsiekte.
Dokters het aanvanklik vermoed dat dit ekseem is, maar die voorgeskrewe medikasie het geen verbetering gebring nie. 'n Spesialis van George-hospitaal het haar eindelik met mastositose gediagnoseer.
"Hy het na Riversdal-hospitaal toe gekom, want ons het nie die finansies of vervoer gehad om na George te gaan nie," verduidelik Annalie.
"Ons sou toe na Tygerberg-hospitaal gaan vir behandeling, maar met die streng Covid-19-regulasies twee jaar gelede was dit nie moontlik nie."
Gedurende die pandemie het hulle sommige van die medikasie by die plaaslike kliniek gekry, maar daar was medikasie wat hulle self by die apteek moes kry.
"Een van die spesialiste wat Lauren-Lee gesien het, het 'n dermatologiese produk voorgeskryf wat baie duur is, maar dit het gelyk of dit begin help. Ek werk egter by 'n restaurant en kry net fooitjies, dus kan ons dit nie altyd koop nie," sê Annalie.
Die velsiekte veroorsaak ook dat Lauren-Lee, wat in gr. 9 is, se skoolwerk daaronder ly. "Die uitslag is nie altyd op dieselfde plekke nie en op 'n keer het haar oë so opgeswel dat sy vir drie weke uit die skool moes bly. Die vel kom partykeer af as gevolg van die vogtigheid en blasies wat dit maak."
Lauren-Lee het nou 'n afspraak by die Grootte Schuur-hospitaal gekry en moet volgende week daar wees, maar weereens ontbreek die nodige finansies.
Enigiemand wat bereid is om haar te help, kan 'n boodskap vir Annelie per WhatsApp stuur by 083 524 2641 (nie skakel nie omdat die foon se luidspreker nie werk nie) of vir Lauren-Lee by 073 989 0667.
Wat is mastositose?
Mastositose is 'n seldsame toestand wat deur 'n oormaat mas-selle veroorsaak word wat in die liggaam se weefsels versamel.
Daar is twee hooftipes mastositose: kutane mastositose wat hoofsaaklik kinders affekteer en waar mas-selle in die vel versamel, maar nie in groot getalle gevind word nie.
Liggaamsistemiese mastositose affekteer hoofsaaklik volwassenes, waar mas-selle in liggaamsweefsels versamel soos die vel, interne organe en bene.
Daar is ook verskeie subtipes sistemiese mastositose, afhangende van die simptome. Mense met mastositose het 'n verhoogde risiko om 'n ernstige en lewensgevaarlike allergiese reaksie te ontwikkel. Dit staan bekend as anafilakse.
Die verhoogde risiko van anafilakse word veroorsaak deur die abnormaal hoë aantal mas-selle en hul potensiaal om groot hoeveelhede histamien in die bloed vry te stel.
Die oorsaak of oorsake van mastositose is nie ten volle bekend nie, maar dit het waarskynlik 'n assosiasie met 'n verandering in gene bekend as die KIT-mutasie.
Dit maak die mas-selle meer sensitief vir die effekte van 'n seinproteïen, genaamd stamselfaktor (SCF). Dit speel 'n belangrike rol in die stimulering van die produksie en oorlewing van sekere selle, soos bloedselle en mastselle binne die beenmurg.
In baie min gevalle van mastositose blyk dit dat die KIT-mutasie deur families oorgedra word. In die meeste gevalle gebeur die mutasie egter vir geen duidelike rede nie.
Vorige artikel: 14-Jarige het seldsame velsiekte
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'