RIVERSDAL VERKIESINGSNUUS - Met die sesde demokratiese verkiesing om die draai het Suid-Kaap Forum gaan uitvind hoe van die inwoners oor die komende provinsiale en nasionale verkiesing op 8 Mei voel.
Willie Williams (78) kan nie mooi onthou aan watter van die vorige verkiesings hy sedert 1994 deelgeneem het nie, maar hy is van voorneme om sy kruisie op stemdag te gaan trek.
"Dit is belangrik om te gaan stem vir die mense wat jy ondersteun as jy wil hê hulle moet die dorp bestuur."
Hy is egter nie oortuig dat die party (DA/VF Plus-koalisie) wat nou in beheer is, so goed is nie.
"Dis nie soos voorheen nie. Hulle kies spesifieke mense vir wie hulle werk gee. Die ander moet omdraai, want dis net (hul) familie wat werk kry."
Johan Daries: "Almal praat dieselfde beloftes, maar niks gebeur nie."
Johan Daries (54), wat sowat ses jaar gelede die enigste van ses persone was wat 'n ernstige motorongeluk op die N2 oorleef het en sedertdien steeds met sy beserings sukkel, sê hy stel glad nie in politiek belang nie. "Die partye maak net beloftes en kom nooit daarby uit nie. Die land gaan net agteruit."
Hy het wel in 1994 gestem. "Dit was 'n mooi tyd, maar in hierdie tyd praat almal dieselfde beloftes, maar niks gebeur nie. Die DA is sover orraait op hul beloftes. Ek hoop hulle bly daarby en dat hulle nie hul mense sal teleurstel nie."
Frik Jacobs: "Ons is verder agteruit as wat ons was." Foto's: Tisha Steyn
Frik Jacobs word in Oktober vanjaar 83. Sy vrou is vyf jaar gelede dood, maar hy sê sy kinders sorg goed vir hom. "Ek het Riversdal sien opgroei," vertel hy. "Ek sal maar moet gaan stem, al het 'n mens mos maar jou eie gedagtes - jy sien en hoor hoe dinge verkeerd loop."
Op die vraag wat verkeerd loop, antwoord hy: "Als!" Hy wil hom egter nie uitlaat oor wat presies verkeerd is nie. "Dit sal tog niks verander nie, ek moet maar 'go with the flow'. Soos Ouboet vir Wors op televisie sê: 'Jy weet mos jy moenie met my politiek praat nie – dit krap my maag om'," haal hy met 'n vonkel in die oog uit die gewilde SABC2-reeks aan. "Ek gaan nou maar saam met wat aangaan, maar ons is verder agteruit as wat ons was."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'