Sponsored Content
SAKENUUS - Die sakereddingsproses, soos voorsien word in Hoofstuk 6 van die Maatskappywet 71 van 2008 (“die Wet”), bied 'n kritieke meganisme vir maatskappye wat in finansiële nood is in Suid-Afrika.
Aan die hart van hierdie proses lê ’n delikate maar noodsaaklike verhouding tussen die sakereddingspraktisyn en die maatskappy se direksie.
Hoewel die aanstelling van ’n sakereddingspraktisyn die bestuurs-struktuur van die maatskappy wesenlik verander, vereis die Wet samewerking tussen die sakereddingspraktisyn, die direksie en die bestaande bestuur.
Hierdie artikel ondersoek die wetgewende raamwerk wat hierdie verhouding beheer, en ontleed die pligte, regte en praktiese uitdagings betrokke.
Wetgewende Raamwerk: Hoofstuk 6 van die Maatskappywet
Die Wet het die konsep van sakeredding bekendgestel, met die doel om ’n raamwerk te bied vir die ommekeer van ‘n maatskappy wat in finansiële nood is.
Volgens Artikel 128(1)(b) verwys sakeredding na verrigtinge wat gemik is op die rehabilitasie van ’n maatskappy wat in finansiële nood is, deur voorsiening te maak vir:
- Die tydelike toesig oor die maatskappy en sy sake;
- ’n Tydelike moratorium op regstappe teen die maatskappy; en
- Die ontwikkeling en implementering van ’n sakereddingsplan om die maatskappy se sake, bates, aandelebelange, laste en bedrywighede te herstruktureer.
Tydens die sakereddingsproses neem die sakereddingspraktisyn volle beheer oor die maatskappy, soos bepaal in Artikel 140(1)(a). Die direkteure word egter nie uit hul amp verwyder nie. Inteendeel, Artikel 137(2) verseker hul voortgesette betrokkenheid, hoewel in ’n ondergeskikte hoedanigheid.
Rolle en verantwoordelikhede ingevolge die Wet
1) Sakereddingspraktisyn
Die sakereddingspraktisyn word ingevolge die Wet gemagtig om:
- Beheer van die maatskappy oor te neem in die plek van die direksie en bestaande bestuur [Artikel 140(1)(a)];
- Enige mag of funksie te delegeer aan ’n persoon wat deel was van die vorige direksie of bestuur [Artikel 140(1)(b)];
- Enige persoon wat deel vorm van die vorige direksie uit hul amp te verwyder [Artikel 140(1)(c)(i)];
- ’n Persoon as deel van die bestuur aan te stel, hetsy om ’n vakature te vul of nie [Artikel 140(1)(c)(ii)].
2) Direkteure
Hoewel hul gesag beperk word tydens sakeredding, behou direkteure verskeie belangrike verantwoordelikhede:
- Hulle moet steeds die funksies van ’n direkteur verrig, onderhewig aan die gesag van die sakereddingspraktisyn [Artikel 137(2)(a)];
- Hulle het ’n plig teenoor die maatskappy om enige bestuursfunksie uit te voer volgens die uitdruklike instruksies of aanwysings van die sakereddingspraktisyn [Artikel 137(2)(b)];
- Hulle bly gebonde aan die vereistes soos bepaal in Artikel 75 van die Wet, wat handel oor direkteure se persoonlike belange [Artikel 137(2)(c)];
- Hulle moet alle boeke, rekords en enige ander relevante inligting beskikbaar stel vir die sakereddingspraktisyn [Artikel 142(1)].
Samewerking in Praktyk
Alhoewel die wetlike raamwerk ’n hiërargie daarstel met die sakereddingspraktisyn aan die stuur, vereis dit ook implisiet ’n samewerkende benadering om die sukses van die sakeredding te verseker.
Die direkteure se kennis tot die industrie, verhoudings met belanghebbendes en operasionele kundigheid bly waardevolle bates.
Effektiewe samewerking kan plaasvind in die volgende areas:
- Operasionele kontinuïteit: Direkteure help met die instandhouding van daaglikse funksies en die bestuur van personeel en verskaffers;
- Ontwikkeling van die sakereddingsplan: Direkteure voorsien die sakereddingspraktisyn van relevante inligting, veral met betrekking tot markinsigte en besonderhede oor wat ’n haalbare ommekeerplan sal behels;
- Implementering van die sakereddingsplan: Direkteure kan opdrag kry om sekere aspekte van die plan uit te voer, onder toesig van die sakereddingspraktisyn (indien nodig).
Uitdagings tot Effektiewe Samewerking
Ten spyte van die wetgewer se bedoeling, verloop praktiese samewerking tussen sakereddingspraktisyns en direkteure nie altyd vlot nie. Algemene probleme sluit in:
- Magstryd tussen die sakereddingspraktisyn en direkteure (wanneer die direkteur(e) nie kan afstand doen van sekere magte nie);
- Wantroue, veral indien direkteure bygedra het tot ongunstige finansiële posisie van die maatskappy;
- Onsekerheid oor rolle en verantwoordelikhede gedurende die sakereddingsproses.
Waar sulke uitdagings ontstaan, kan die sukses van die sakereddingsproses in gedrang kom, wat moontlik kan lei tot die verwydering van ‘n direkteur of die omswaai van sakereddings verrigtinge na likwidasie.
Gevolgtrekking
Die Wet voorsien ’n samewerkende, tog beheerde verhouding tussen ’n sakereddingspraktisyn en direkteure. Alhoewel die sakereddingspraktisyn aansienlik meer gesag het, word direkteure nie heeltemal vervang nie. Inteendeel, die Wet vereis ’n samewerkende verhouding wat gegrond is op deursigtigheid, aanspreeklikheid en ’n gedeelde verbintenis tot die redding van die onderneming.
Waar samewerking effektief bestuur word binne die wetlike raamwerk, verhoog die kanse op ’n suksesvolle ommekeer beduidend. Waar direkteure en sakereddingspraktisyns egter versuim om konstruktief saam te werk, loop die proses gevaar om te verval in konflik, ondoeltreffendheid en uiteindelik, die besigheid se ondergang.
Artikel geskryf deur Enrico Acker (Insolvensie en Sakereddings-praktisyn). Vir meer inligting, kontak Enrico by 044 601 9900 of enrico@rgprok.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’