Gallery Sponsored Content
SAKENUUS - Rauch Gertenbach Prokureurs vier in Maart volgende jaar ‘n uitsonderlike mylpaal wanneer dié bekende regsfirma hul eeuwording gedenk. Die firma is op 1 Maart 1922 gestig deur JJ Scholtz, wie se broer, RM Scholtz in 1923 sy venoot geword het.
In die eerste van ‘n reeks artikels oor die ryk geskiedenis van dié firma in aanloop tot die eeuwording volgende jaar, word die formidabele Scholtz-broers se rol in Mosselbaai en hulle besonderse impak as dienaars van hulle gemeenskap belig.
Die Scholtz-familie was egter nog lank nie klaar met diep spore trap in Mosselbaai se geskiedenis en in effek, Rauch Gertenbach se grondlegging nie.
Verandering
Robert Michael (Robbie) Scholtz, sluit in 1923 by sy broer JJ se firma op Mosselbaai aan. Getroud met Aletta Gertruida van Coller, het die egpaar twee seuns, Christiaan Vos Scholtz en Johan Adolph Scholtz wat uit die huwelik gebore word.
Voor die verhuising na Mosselbaai, praktiseer Robbie as prokureur en notaris op Bethlehem. Hy staan sy skoene in die gemeenskap op verskeie maniere vol en dien vir meer as 20 jaar as burgemeester van die dorp. Teen 1948 tree Robbie se broer en stigter van die firma uit as prokureur. Robbie se jonger seun, Johan was ‘n ingeskrewe klerk by die firma, wie se kantore destyds op die perseel was waar die NG Moedergemeente tans staan.
FOTOGALERY: Rauch Gertenbach vier 100 jaar in 2022
Op 18 September 1948, verskyn ‘n kort berig in die Mossel Bay Advertiser waarin besonderhede rondom die bou van die nuwe kerk gegee word. Hiervolgens word aangedui dat die kantore van Scholtz & Scholtz gesloop sal word om plek vir die nuwe kerk te maak.
Die praktyk verhuis na Cuffstraat waar hulle ‘n nuwe tuiste vind in die Robbie Scholtz-gehou.
In die 1950s, was daar drie prokureursfirmas op Mosselbaai – almal aanvanklik in Cuffstraat.
In 1955, op 70-jarige ouderdom, sterf Robbie Scholtz af.
Nuwe fase
Met die drie prokureursfirmas nou in Cuffstraat, het kliënte meer keuse en wissel hulle van een prokureur na ‘n ander. Tipies aan ‘n kleiner dorp waar almal mekaar ken, is hulle ook maar versigtig om gesien te word, ter wille van goeie verhoudinge.
Scholtz & Scholtz word Scholtz & Van Renen en toe Theo Pauw hom by die firma aansluit, staan hulle bekend as Scholtz Van Renen & Pauw. Met immigrasie wat toe reeds blykbaar ‘n aantreklike opsie vir Suid-Afrikaners was, verhuis Jack van Renen na Nieu Seeland. Nou word geleentheid geskep vir Moolman om hom by die firma te voeg en die firma word na 1973 bedryf as Scholtz Pauw & Moolman.
Dis gedurende die jare 70, dat die laaste Scholtz by die firma, Johan besluit om na Pretoria te verhuis. ‘n Nuwe fase lê voor, wat ‘n sleutelmoment in die groei en voortbestaan van Rauch Gertenbach was.
Johan Scholtz
‘n Koerantberig in die plaaslike koerant kondig met skok op 9 Januarie 1980 aan dat Johan Scholtz gaan aftree. Dít bring, aldus die artikel, ‘n einde aan 58 jaar wat die Scholtz-familie ‘n essensiële rol gespeel het in die wel en weë van die gemeenskap van Mosselbaai.
Johan, die laaste van die Scholtze betrokke by die oorspronklike praktyk, was drie jaar oud toe sy ouers in 1923 op Mosselbaai hervestig het. Hy matrikuleer aan Hoërskool Punt en gaan studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Aanvanklik studeer hy eers vir ‘n onderwysgraad, waarna hy sy studies in regte aanpak.
Toe sy oom JJ in 1948 uit die regsprofessie tree, word hy sy pa Robbie se vennoot.
Soos die Scholtze voor hom, word Johan in die genoemde koerantartikel geloof vir sy diens aan sy gemeenskap. Hy volg aldus die berig in die sogenaamde familietradisie deur Mosselbaai te dien as onderburgemeester en toe as burgemeester vir etlike jare. Hy dien ook as president van die seiljagklub, die krieketklub asook die gholfklub en dien op talle munisipale komitees.
Johan Scholtz word onthou as ‘n geniale man met ‘n pittige sin vir humor en het soos sy voorsate, ‘n reusebydrae tot Mosselbaai gelewer. ‘n Kerndeel van hierdie nalatenskap – is Rauch Gertenbach Prokureurs, binnekort ‘n 100 jaar oud.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'