Sponsored Content
HEIDELBERG NUUS - Opwinding bou op in Heidelberg waar inwoners en besoekers dié naweek weer saamtrek vir die gewilde Heidelberg Groot Pampoenfees - met alle oë gevestig op die groot vraag: wie gaan vanjaar die swaarste pampoen inweeg?
Die jaarlikse fees, wat sedert 2007 gegroei het van ’n klein plaaslike byeenkoms tot ’n hoogtepunt op die Suid-Kaap se kalender, lok weer topkwekers, kunstenaars en feesgangers van regoor die land.
Verlede jaar se rekordpampoen, gekweek deur Piet Lotz, het ’n verstommende 1 120 kg geweeg - en die groot vraag is of dié merk vanjaar oortref kan word.
Die fees het reeds op Donderdag 26 Maart met ’n gholfdag by die Heidelberg-gholfklub afgeskop. Die aand is afgesluit met ’n optrede deur Amoré Rudman.
Vandag (Vrydag 27 Maart) verskuif die aksie na die Heidelberg-skouterrein waar die hekke om 16:00 oopmaak vir ’n lewendige nagmark, kosstalletjies, biertuin en musiek. Kunstenaars soos SP Keyser, Burger le Roux, Amoré Rudman, Viljoen Retief en Juan Boucher sal die verhoog laat lewe, met ’n napartytjie en dans tot laat.
Van links na regs: Barto, Amore en Juan Boucher.
Saterdag begin die fees reeds om 09:00 met ’n propvol program vir die hele gesin, insluitend kindervermaak, musiekoptredes en die gewilde pampoenweeg wat van 16:00 tot 18:30 plaasvind. Die dag sluit af met optredes deur Cobus Snyman en Barto, gevolg deur nog ’n energieke napartytjie.
Suid-Kaap Forum het Woensdag by Piet Lotz, verlede jaar se wenner van die Groot Pampoenfees, op sy plaas buite Stilbaai gaan kuier. Lotz het opgewonde gesê dat hy dalk hierdie jaar vir ’n verrassing kan sorg.
Hy sê kwekers toon vanjaar groot belangstelling en daar is baie nuwe inskrywings. “Wie vanjaar die swaarste pampoen het, gaan ons Saterdag sien. Dalk breek iemand nog die wêreldrekord … wie weet?” sê Lotz met ’n glimlag.
Piet Lotz
Die fees is gebou rondom reusepampoene wat oor maande met sorg gekweek word, en dit is nie ongewoon dat pampoene van meer as 800 kg op die skaal beland nie. Die gehalte en grootte van die pampoene het aansienlik toegeneem, met nuwe kwekers wat sedert 2024 ook aangemoedig word om deel te neem.
Wat eens ’n eenvoudige daggeleentheid was, het ontwikkel tot ’n driedaagse fees wat duisende mense lok en ’n belangrike bydrae tot die plaaslike ekonomie en gemeenskap lewer. Organiseerders fokus steeds daarop om iets vir almal te bied - van wêreldklas vermaak tot gesinsvriendelike aktiwiteite.
Met pampoene wat rekords breek, topkunstenaars en ’n feestelike atmosfeer beloof vanjaar se Heidelberg Groot Pampoenfees om weer ’n naweek te wees wat lank onthou sal word.
The Amazing Magic of Regardt Laubscher.
Kaartjies beskikbaar:
- Aanlyn by www.pumpkinfestival.co.za
- Asook by deelnemende winkels en by die hekke
- Vir navrae kontak Jo-Ann Kretzen: 071 876 4224

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’