Bekommerde inwoner van Riversdal:
Ek is so innig dankbaar dat Hugo Redelinghuys die kwessie oor slaggate op die voorblad van sy koerant aangespreek het. Dit is 'n saak wat my na aan die hart lê al vir 17 jaar wat ons hier woon.
Ek dien gereeld klagtes hieroor en ander sake in en voel al soos die enigste vark in die verhaal. Soos die berig meld, word die gate darem soms vol grond of iets gestop net om die volgende dag weer te verskyn. As daar nog bietjie teer ingegooi word soos die afgelope week, ry voertuie dadelik weer daaroor...
Wat help dit? Ek stel voor maak die een baan toe, laat die "teer" droog word en dan weer die ander baan. Ek praat nou spesifiek van die stuk pad tussen die Voortrekkerkamp en waar Heidelbergweg verdeel, na die Ou Tronk. Die strate aan die noordekant van Heidelbergweg is in net so 'n patetiese toestand.
Dan die grondpaaie om die dorp..... wat 'n fiasko! Ons vriende na Kleinrivier se kant toe, raai ons af om by hulle te kom kuier as gevolg van die toestand van die pad. Daar is so drie jaar gelede aan die pad gewerk. Dit is halfpad gelos met gevaarlike diep gate op verskeie plekke langs die pad. Die toestand van die pad het sedertdien net vererger.
Dan die stuk grondpad Zeekoegat toe. Liewe bewoners, hoe hou julle voertuie dit? Ek stap gereeld daar en sien hoe motoriste moet koes en swenk vir reusegate. Sommige ry selfs langs die pad. Eers het ons darem soms gesien hoe padskrapers na reën die paaie kom skraap, nou NOOIT meer nie.
Ek lees van die padskrapers en toerusting van miljoene rande wat ontvang is deur Tuinroete-distriksmunisipaliteit (DM). Waar is hulle, definitief nie hier nie. Ek sien in die Forum hoe Tuinroete DM spog met hulle prestasies die afgelope jaar... wat als word daar gedoen.
Ry jy Mosselbaai of George toe, is werkers besig om gras teen die paaie te sny en vullis op te tel. Hier gebeur net mooi niks, al kla jy ook daaroor.
Hulle gemaklike antwoord altyd: "Dit val nie onder hulle nie," maar onder die distrik. Twak! Ons het gestem vir 'n wyksraadslid (wie en waar is die?), vir 'n munisipale raadslid en vir 'n distriksraadslid!
Nog 'n kopseer is die stuk grondpad tussen Heidelberg en Tradouwspas. Ons ry gereeld daardeur Montagu toe en moes die afgelope jaar al twee keer daar omdraai omdat vragmotors daar geknipmes het en die pad versper het. Daar is diep dongas langs die pad waar vloedskade borde vir hoe lank gestaan het, maar niks daadwerkliks gedoen is nie. Die vragmotors gly, voorwiele beland in dongas en dan knipmes hulle tot groot ongerief van ander motoriste. Dis ook die enigste pad na die pragtige Grootvadersbosch, maar in wat se toestand is daai pad.
Wonder wat dink besoekers en toeriste... Absolute skande! In beide gevalle waar ons moes omdraai, was daar geen verkeersbeamptes in sig om motoriste betyds te waarsku of pad te sluit by Heidelberg of Suurbraak nie.
So kan ek voortgaan, maar dink dis eers genoeg stof tot nadenke. Voetganger- en fietsryergedrag is ook 'n storie vir 'n ander dag.
Moenie dat Hessequa ook maar soos ander munisipaliteite verval nie of is dit reeds besig om te gebeur? Vrot die vis ook maar stadigaan van die kop af?
Hessequa-munisipaliteit het as volg op bostaande brief gereageer:
"Die Hessequa munisipale streek het die afgelope twee maande baie goeie reënval ervaar met die gevolg dat daar baie slaggate oor die hele streek gevorm het. Die herstel van slaggate was op program geplaas, maar moes uitgestel word weens die water binne die slaggate.
Die munisipaliteit het op hul beurt vir die interim 'n mengsel padbougruis en sement gebruik om die slaggate op te vul. Die omliggende grondpaaie na die plase ressorteer onder die jurisdiksie van Garden Route Distriksmunisipaliteit en is laasgenoemde dus verantwoordelikheid vir die instandhouding en hergruis van die paaie.
Die gedeelte vanaf die interseksie vanaf Kerkstraat en Heidelbergweg verby die ou tronk is 'n provinsiale pad en dus die verantwoordelikheid van die provinsie om herstelwerk te doen. Hessequa-munisipaliteit is nou volstoom besig om alle slaggate in alle dorpe te herstel.