HESSEQUA NUUS - Die Dasse het op 18 Augustus 'n goeie interskole-kragmeting teen Hoërskool Swellendam beleef en met 69-19 gewen.
Die netbalspanne het vier uit die vyf wedstryde gewen. Die eerste span wen met 29-17, die tweedes met 19-17, o.16A verloor met 23-1, o.15A teen Swellendam se o.16B wen 28-4 en die o.14's seëvier met 25-12.
Die meisieshokkie het ook al hul wedstryde gewen: Die eerste span seëvier met 1-0, die o.16A's wen met 1-0 en die o.16B's met 2-0.
Die seunshokkiespanne speel vanjaar vir die eerste keer interskole. Die o.16's speel 0-0 gelykop en die o.17's verloor met 0-3.
Die rugbyspanne het meer uitdagende wedstryde gehad en die o.15's moes die knie met 5-23 buig en die o.17's met 22-30. Die eerste span speel 'n baie goeie wedstryd en seëvier met 33-15.
Swellies kon nie al die spanne voorsien nie en is wedstryde teen Oudtshoorn en Albertinia gespeel. Die tweede rugbyspan verloor met 5-36 teen Albertinia en die hokkie se o.18C's met 0-3 teen Oudtshoorn. Die o.14's-, o.14B's- en o.18B's meisieshokkie speel almal teen Oudtshoorn 0-0 gelykop.
Die netbal speel ook teen Oudtshoorn en die o.14B's verloor met 11-17, die o.15B's wen 27-10, die o.15C's verloor 10-12 en die o.18C's met 11-24.
Van links: Radandt Malherbe (hoofseun), Anru van Schalkwyk (dirigent), Dylan du Plessis (dirigent), Zanell Warner (dirigent), Abigail Kamfer (dirigent), Leané Pottas (dirigent), Alicia Sambo (dirigent) Janique Gerber (hoofdogter), Neelsie (gelukbringer) en Allister Miggels (kaptein van die eerste rugbyspan). Voor: Elana van Zyl (kaptein van die eerste netbalspan en Andrie Swart (kaptein van die eerste hokkiespan).
Dasse oorheers die dag as gevolg van die puntestelsel wat gebruik word om die Interskole-wenner te bepaal. Daarvolgens dra elke span wat wen tot die puntetotaal by. Die skool het ook die rugby-, hokkie- en netbaltrofeë ingepalm. Swellendam het die seunshokkietrofee verower.
Dasse het nie net op die dag gewen nie, maar wel met die voorprogram se aktiwiteite wat Bybelvasvra, skaak en redenaars ingesluit het. Hulle het egter gesorg dat die trofee vir die sewende jaar in 'n ry veilig in die Das-trofeekas bly staan.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'