STILBAAI NUUS - Timo Dinkelman van Stilbaai se liefde vir sokker skep geleenthede vir toekomstige sokkersterre.
Timo, 'n Nederlander van geboorte, het in 2016 via Ierland in Suid-Afrika beland en het in Hartbeespoort gewoon voordat hy in Januarie 2023 Stilbaai toe getrek het.
Hy het in Nederland sokker gespeel en ook afgerig. Toe hy uiteindelik in Stilbaai beland het hy besluit dat hier sokker gespeel moet word. Die plaaslike laerskool het nie sokker as 'n sportsoort aangebied nie en hulle het ook nie belanggestel om met Timo se hulp sokker op hulle sportprogram te sit nie.
Hy kon ook nie die dorpsveld gebruik nie aangesien dit aan die skool toegeken is.
Timo wou nie opgee nie en ná gesprekke met Hessequa-munisipaliteit het hulle hom toestemming gegee om 'n grasperk langs die pad na Preekstoel te gebruik as sokkerveld. Hy het iemand wat die gras eenmaal per maand vir hom sny en hy gebruik sommer opvoubare doelhokke.
Timo Dinkelman draf saam met sy groepie tydens opwarming.
Hy het alreeds 35 spelertjies wat opgedeel is in twee groepe: gr. 1 tot 3 met 20 tot 22 kinders waarvan twee meisies is, en dan gr. 4 tot 7 met 13 kinders waarvan daar ook twee meisies is.
Hulle oefen Maandae met die kleintjies van 15:00 tdot 16:00 en die ouer groep van 16:00 tot 17:00.
Suid-Kaap Forum het gaan inloer om te sien wat maak hierdie kinders op die stuk veld en dit was duidelik dat hulle baie ernstig is oor hulle sport.
Timo sê dat die groep baie toegewyd is en dat hulle nie kan wag dat dit Maandag word nie. Toevallig het 'n ma haar twee seuns vroeg kom haal vir ander sport en hulle het behoorlik 'n keel opgesit omdat hulle moes gaan.
Timo sê sodra die spelers op 'n aanvaarbare vlak is gaan hy wedstryde teen ander spanne reël. Daar is spanne in Mosselbaai en Melkhoutfontein.
Hou hierdie spelers gerus dop en gaan moedig hulle aan op 'n Maandagmiddag. Timo en sy neef Merlijn Versteeg sal daar rondhardloop saam met die spelers.
Indien daar ouers is met enige vrae kan julle gerus daar 'n draai maak of Timo kontak by 079 580 0551.
Ana Janse van Vuuren wys haar slag by die kegels.
JD Lochner dribbel die bal met 'n teenstander voor hom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’