GEORGE NUUS - Die 2018 Erfenistoer, wat ondersteun word deur Montego Pet Nutrition, besoek vanjaar die Weskus. Altesaam 51 deelnemers in 27 voertuie neem daaraan deel. Hulle vertel meer van hul voertuie.
Walter en Lydia Fivaz van Hartenbos neem vanjaar vir die eerste keer aan die Erfenistoer deel. Hulle reis in ‘n 1948 Hudson Pacemaker Coupé. Die voertuig is deur die Hudson Motormaatskappy in Detroit, VSA vervaardig.
Hulle het die voertuig vyf jaar gelede van ‘n restauranteienaar op Keurboomstrand gekoop. “Die voertuig is uniek – daar is nie nog so een in die land nie,” sê Lydia. “Die elegante styl, chroomwerk en die indrukwekkende sierrooster, is vir ons baie besonders,” sê sy.
George Marx van Tergniet, Mosselbaai, neem vanjaar vir die sewende keer met sy 1957 tweedeur Morris Minor 1000 deel. “Tydens die vorige ses toere het ek geen problem met my motor ondervind nie,” vertel hy. Hy het die voertuig agt jaar gelede by ‘n vriend gekoop wat toe al amper sewe jaar lank restourasiewerk op die kar gedoen het en daar was min werk oor wat George self moes doen.
Dié Morris Minor 1000 lê hom na aan die hart. “My eerste voertuig as ‘n jong man was ‘n 1954 Morris Minor 1000, waarmee ek in 1962 my bestuurderslisensie gekry het,” vertel hy. “Die Morris Minors is oor die algemeen ‘n betroubare voertuig – so betroubaar dat hulle sonder ‘n hittemeter ontwerp is! Die tweedeur-model het meer beenspasie as die vierdeur.” Hy besit ook ‘n 1959 vierdeur-model waarmee hy ook in September vanjaar ‘n sesdagtoer gaan onderneem.
Chris en Nelie van Staden van Groot-Brakrivier neem ook vanjaar vir die sewende keer in hul 1968 Porshe 912 Targa deel aan die Erfenistoer. “Na my aftrede het ek 'n speelding gesoek en toe op die Porsche afgekom,” vertel Chris. “Dit lyk net soos die duur Porsche en trek baie aandag, maar is nie regtig so duur nie. Die voertuig is ook maar partykeer vol truuks, maar ons geniet haar baie!”
1948 Hudson Pacemaker Coupe progress on project.
Rohann en Marlise Steenekamp van George neem vanjaar aan hul vierde Erfenistoer deel in hul 1952 Chevy 310-bakkie. “Ek het die bakkie in 2015 by Esterhuysen-mense op Joubertina gekoop,” vertel hy. “Die mense het jare lank die winkel-vulstasie op Misgund besit, en tot ongeveer 1980 is die bakkie daar gebruik om daagliks winkelgoedere van die stasie en dorp af aan te ry. Ons het van die bakkie te hore gekom en daarna gaan kyk terwyl ons op die 2015 Erfenistoer deur die Oos-Kaap was.”
Volgens Rohann het hy op ‘n plaas grootgeword en altyd baie waardering vir hierdie werkesels van die plaas gehad. “Toe ek die bakkie die eerste keer sien, was dit duidelik dat hy op sy dag baie hard gewerk het. Noudat hy klaar gerestoureer is, is dit net lekker om so regop agter daardie groot stuurwiel te sit en rustig ons mooi land te toer. Dit is ook vir ons baie spesiaal om kwaliteit tyd so saam deur te bring. Dit plaas definitief ‘n glimlag op ‘n mens se gesig!”
Sydney en Daphne Young van Tulbagh neem vanjaar vir die derde keer deel in hul 1960 Morris Minor 1000. “Ek het die voertuig in 2016 deur ‘n vriend bekom en dit is vir ons baie besonders omdat dit ‘n oorspronklike ingevoerde voertuig is.”
Rohann se bakkie.
Jan du Rand en Jani Klomp van Stormsrivier neem vanjaar in sy 1962 Consul Capri 315 aan die Erfenistoer deel. “Ek het baie jare gesoek en uiteindelik vanjaar hierdie een gevind,” vertel Jan. “Oorspronklik het die motor met ‘n 1340cc-enjin uitgekom en in September 1962 is dit opgradeer na 1500cc en ‘n vierspoedratkas. Ek is baie gelukkig dat ek die baie skaars GT het waarvoor die Cortina GT-spesifikasies gebruik is.” Jan en Janie het in 2015 met ‘n 1959 Ford Zodiac deelgeneem, in 2016 met ‘n 1961 Vauxhall Velox, in 2017 met ‘n 1977 Mercedes 500SLC.
Kontak Pierre Olivier, voorsitter van die komitee wat die Erfenistoer reël, by 082 872 6456 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'