RIVERSDAL NUUS - Vyf jong Riversdallers wat tussen 10 en 13 jaar van hul lewens aan Die Voortrekkers gewy het, het die dorp én hulself trots gemaak deur die gesogte Presidentsverkennertoekenning te verwerf - een van die hoogste prestasies wat 'n jeuglid binne die beweging kan behaal.
Sebastiaan Visser, Conrad Rall, Eugène Rousseau, Marguerite Dyason en Anandia du Plessis, almal gr. 12-leerders, het onlangs die laaste fase van die veeleisende proses suksesvol voltooi en sluit nou hul jare as jeuglede van Die Voortrekkers op 'n besonder hoë noot af.
Die vyftal se prestasie is 'n besondere mylpaal vir Riversdal se Voortrekkerkommando en die Suikerbekkiespan, waarvan hulle oor baie jare deel was.
Drie van die jong mans - Sebastiaan, Conrad en Eugène - het reeds in gr. R by die Voortrekkers aangesluit, terwyl Marguerite en Anandia onderskeidelik in gr. 3 en gr. 4 deel van die groep geword het.
Volgens Tielman Roos, spanoffisier van die Suikerbekkies en Riversdal se kommandoleier, is dit 'n groot voorreg om die vyf jongmense se ontwikkeling oor soveel jare te kon volg.
"Dit was vir my 'n reusevoorreg om hierdie groepie uitsonderlike jong-mense oor die afgelope sowat 13 jaar binne Die Voortrekkers te sien grootword, en in besonder ook gedurende die afgelope ses jaar wat ek hul spanoffisier was," sê hy.
Hy vertel dat die groep talle besondere ervarings gedeel het en dat die bande wat oor die jare gesmee is, lank onthou sal word.
"Die baie ure wat ons saam deurgebring het, was spesiaal en sal my altyd bybly - Maandae se spanvergaderings waartydens daar gereeld diep dinge bespreek is, die saam kamp, stap in die berge, slaap onder die sterre, nagmarse en roei op die Breërivier.
"Ons was soms koud, nat en moeg, maar dit alles was deel van die besondere bande wat gesmee is."
Roos sê hy sal die groep mis, maar sien daarna uit om hul verdere lewenspad met belangstelling te volg.
"Ek sal hulle met belangstelling én hoë verwagtinge dophou en wens hulle net die beste toe."
Jare van groei
Die vyf leerders het oor die jare gereeld spanvergaderings op Maandagmiddae by die Voortrekkerterrein bygewoon.
Gedurende dié tyd het hulle nie net in hul bewustheid van Christenskap, Afrikanerskap en Suid-Afrikaanse burgerskap gegroei nie, maar ook 'n wye verskeidenheid praktiese en lewensvaardighede aangeleer.
Dit sluit onder meer noodhulp, kamplewe, staptogte, leierskap, kaart- en kompaswerk, natuurbewaring, radiospraak, selfverde-diging en wapenhantering in.
Die Voortrekkers het egter ook vir hulle die geleentheid gebied om sterk vriendskappe te bou en deel te wees van 'n groep waar gevestigde waardes en diensbare leierskap 'n belangrike rol speel.
Sebastiaan
Sebastiaan sê daar is iets besonders aan die Voortrekkerervaring wat 'n mens bybly.
"Daar is iets aan Voortrekkerkampe wat in jou wese gaan vassit en jou siel verander, sodat jy elke nou en dan weer hunker na die veld, kampvuur en vriende."
Eugene
Vir Eugène is die vriendskappe wat oor die jare ontstaan het, een van die waardevolste aspekte van sy Voortrekker-loopbaan.
"Iets wat ek altyd van Die Voortrekkers sal onthou, is die vriendskappe wat ek gemaak het en die lang pad wat ek saam met elkeen van my graad gestap het," sê hy.
Hy onthou ook die uitdagings wat hulle saam moes aanpak.
"Die grootste uitdaging was sonder twyfel in gr. 11 tydens Winterwaterwerkkamp (WWWK), toe ons in Julie by Theewaterskloofdam moes uitswem en 12 uur in 'n vlot moes deurbring.
"Maar ek sou dit vir niks verruil nie, want dit is waar ons leer wie ons is en wat ons lewensdoel is."
Streng vereistes
Om as Presidentsverkenner te kwalifiseer, moet 'n kandidaat eerstens 'n bewese rekord van getroue bywoning en aktiewe deelname aan 'n verskeidenheid Voortrekkeraktiwiteite oor sy of haar hele Voortrekkerloopbaan hê.
Kandidate moet daarna 'n strawwe toets slaag waarin hul kennis van Voortrekkersake sowel as algemene kennis getoets word.
Nadat dié vereistes nagekom is, moet hulle ook 'n afrondingskamp suksesvol voltooi om finaal vir die Presidentsverkennertoekenning te kwalifiseer.
Die vyf Riversdallers het van 1 tot 5 Julie aan die laaste fase van die proses by Wemmershoek deelgeneem nadat hulle reeds die vereiste Hoofleierswag-eksamen geslaag het.
Tydens die kamp is hulle onder meer op leierskap, vaardighede en persoonlike ontwikkeling geëvalueer, met die waardes van Afrikanerskap, burgerskap, Christenskap en diensbare leierskap as grondslag.
Die amptelike oorhandiging van die toekennings aan die Wes-Kaapse kandidate word op 10 Oktober by Wemmershoek beplan.
Die vyf Riversdal-kandidate sal egter reeds op Vrydag 14 Augustus plaaslik deur die Riversdal-kommando vereer word tydens die kommando se jaarlikse fondsinsamelingsete.
Met hul jare lange toewyding, deursettings-vermoë en bereidwilligheid om uitdagings aan te pak, het Sebastiaan, Conrad, Eugène, Marguerite en Anandia nie net 'n gesogte toekenning verwerf nie, maar ook bewys dat die waardes, vaardighede en vriendskappe wat oor jare opgebou is, hulle goed sal toerus vir die grootmenswêreld wat nou voorlê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’