Met die hulp van 'n weldoener wat dié nood raakgesien het, kan die trompoppies voortaan met trots hul nuwe uitrustings met optredes dra. Die Coetzee-gesin van Riversdal Electrical and General Dealers het, nadat hulle die uitrustings gesien het waarmee die trompoppies optree, besluit om alles in hul vermoë te doen om dié groepie te help.
"Ons het Voorwaarts se trompoppies verlede jaar vir die eerste keer by Riversdal Landbouskou gesien en was verstom om te sien met hoeveel oorgawe die kinders optree, ten spyte van die feit dat hul kleredrag nie eens 'n eenheid vorm nie. Ons het besluit om Huttenpark skool in Newcastle, Kwazulu-Natal waar ons oorspronklik vandaan kom, te nader om te hoor of ons nie hul tweedehandse klere kan oorkoop nie en groot was ons verbasing toe hulle ons laat weet dat hulle dit sal skenk," vertel Debbie Coetzee.
Sy het onder meer 60 rokkies en handskoene ontvang, wat haar broer wat in Newcastle woon, vir hulle gebring het.
"Maar toe kort ons nog hoede (buzbies) en stewels. 'n Paar mense was bereid om skenkings te gee waarmee ons al die 'buzbies' en stewels gekoop het en daarvoor wil ek uit my hart uit vir elkeen baie, baie dankie sê. Ons het selfs 'n skenking van 15 blou tweedehandse 'buzbies' van ene Willem Sauerman in Klerksdorp gekry wat hy vir ons gaan stuur. Ons het die stewels by hom gekoop met 'n goeie korting."
Hoewel Voorwaarts nie die blou 'buzbies' kan gebruik nie, is daar dalk 'n ander skool wat wel kan. Hul besigheid, REG Plasties (ou Malco mark), is bereid om 5% van alle aankope wat kliënte maak in hul plastiese winkel, aan Voorwaarts se trompoppies se skenk tot almal uitgerus is, want tot dusver kon hul nog net 20 kinders ten volle uitrus. Kliënte moet net by die betaalpunt noem dat hul aankope in Voorwaarts se boekie moet kom.
"Ons sê baie, baie dankie." Me. Debbie Coetzee (regs) is met 'n pragtige bos blomme deur die skool bedank. Me. Carmen Karelse van Voorwaarts (links) het benadruk dat hierdie uitrustings met trots en waardigheid gedra sal word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'