Update
STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Bewaringstrust onder leiding van dr. Deon Begeman en die Stilbaai Belangeforum onder leiding van Gustav Radloff het 'n pragtige staproete uitgelê wat strek van die parkeerterrein by Skuitpad tot by die gholfbaan se hek en dan 'n figuur-agt roete deur die bosse tussen die gholfbaan en die Jongensfonteinpad.
Beplanning daarvoor het reeds in Augustus 2022 begin met 'n versoek, wat 'n wetenskaplike verslag ingesluit het, aan die Hessequa-munisipaliteit.
Die totale roete is 7,4 km, maar stappers kan ook net die 3,7 km figuur-agt roete stap op die gerieflike paadjies wat gemaak is.
Volgens Begeman is daar ongeveer 167 inheemse verskillende plantspesies op hierdie 61 hektaar grond en die staptog kan behalwe vir oefening en ontspanning ook opvoedkundig gebruik word.
Paadjie kronkel deur die veld.
Stilbaai spog alreeds met talle staproetes, maar hierdie toevoeging is letterlik op jou voorstoep en bied met tye 'n pragtige uitsig oor Stilbaai en spesifiek Lappiesbaai.
Dit word geklassifiseer as 'n maklike stap met matige hellings.
Die staproete is op Vrydag 25 Augustus amptelik geopen en Begeman het amper veertig stappers deur die roete geneem. Almal was dit eens dat hierdie lank gekoesterde ideaal 'n aanwins is vir Stilbaai.
Die roete is so ontwerp dat dit mooi sal inskakel by die beplande Argeologiese-museum wat ook op die stuk grond gaan verrys en die moontlikheid van veldfietsry roetes moet nie buite rekening gelaat word nie.
Uitsig oor Stilbaai
Grafiese voorstelling van roete.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’