STILBAAI NUUS - Die plaaslike polisie het tydens vanjaar se Mandeladag-vieringe die kollig op 'Aksie teen armoede' laat val.
In samewerking tussen liefdadigheidswerkers, Stilbaai se Gereformeerde gemeente en Melkhoutfontein Primêr is 'n groep leerders van dié skool gehelp om hul omstandighede te verbeter.
Vyf sleutelareas vir vennootskappe wat 'n strategiese impak kan maak, is geïdentifiseer, naamlik opvoeding en geletterdheid, voedsel, skuiling, sanitasie en aktiewe burgerskap. Die liefdadigheidswerkers het die groep leerders voorsien van klere, voedsel, toiletware en vrugte.
Volgens ao. Morné D'Emiljo, plaaslike mediabeampte, was Mariaan de Villiers, 'n liefdadigheidswerker wat spesiaal vir die dag vanaf Kaapstad gereis het, diep geraak deur die vreugde en dankbaarheid op die gesiggies.
Sers. Christiana Lewaks, sosiale misdaadkoördineerder, het die leerders aangemoedig om bo hul omstandighede uit te styg en dit nie as 'n verskoning vir ongeletterdheid te gebruik nie. Sy het hulle aangespoor om op hul drome te fokus en dit na te jaag.
Die Stilbaai-biblioteek het ook 'n welkome skenking van boeke aan die polisie se slagofferbemagtigingskamer gemaak.
Stilbaai-polisie bedank Corrie de Jager, Mariaan de Villiers, Yolanda Mostert, Marietjie en die Aandblom gebedsgroep, asook die Stilbaai-biblioteek.
Mandeladagvieringe by Melkhoutfontein Primêr.
Van links: Michelle Kleinhans van die Stilbaai-biblioteek en ao. Morné D'Emiljo.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'