Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS - Vanjaar is die 150ste bestaansjaar van die jaarlikse landbouskou gevier.
Tans is Riversdal-landbouskou die tweede grootste skou in die Wes-Kaap.
Volgens notules vanaf 1856 wat Joubert van Wyk, vorige president van die skou nageslaan het, is die eerste skou in 1868 op die plein in die dorp gehou.
Dit is waar die trein nou staan.
Die huidige skouterrein is tussen 1904 en 1906 deur dr. Vicky van Wyk se oupa, André van Wyk geskenk.
Die eerste skou is eers in 1910 op die huidige skouterrein aangebied.
Die skou is in daardie jare Woensdae en Donderdae aangebied en het later Donderdag tot Saterdag plaasgevind.
Bier is eers in 1947 op die skouterrein verkoop. As gevolg van 'n aardbewing in 1971 moes skade aan geboue op die skouterrein herstel word.
In 1987 was daar geen perde op die skou nie as gevolg van perdesiekte.
Die Merino Classics is vir die eerste keer in 2008 aangebied en dit was ook die eerste keer wat daar meer as 10 000 mense die skou bygewoon het.
Kyk 'n video hieronder:
Merino's
Die SA Merino Classics is weer vanjaar aangebied en 737 skape is ingeskryf.
Volgens Hennie Geldenhuys was dit 'n lekker neutrale skou met sterk kompetisie en goeie kwaliteit skape.
Daar is weer 'n merino-woldrakompetisie gehou en die draer wat 120 kg wol oor 40 m die vinnigste kon dra het 'n kontantprys en wisseltrofee gewen.
Verlede jaar se wenner, Jeremy Michaels, het weer die vinnigste met die wol gehol.
Stephan Naudé van Nieu-Bethesda se Merino-ram is as groot kampioenram aangewys terwyl Rulo van Heerden van Murraysburg se merino-ooi as groot kampioen ooi aangewys is.
Louw Malherbe se slaglam het met 21,9 kg die prys vir kampioen slaglam aan die haak gewen.
Met die veiling is die bod is op R20 000 toegeslaan.
Geld wat tydens die veiling ingesamel is, is aan Huis Wallace Anderson geskenk.
Jan-Cor Stegman se lam is as beste slaglam op die hoef aangewys.
Skape moet ook soms geliefkoos word. Dit help hulle veral om rustig te bly tydens skoutyd.
Boerboele
Boerboele, beeste en selfs babas is ten toon gestel sodat die mooiste en beste uitgewys kon word.
Meer as 100 boerboele is ingeskryf. Elevation Echo het beoordelaars die meeste beïndruk en is as hond van die dag en kampioen teef gekroon.
La Boela Boston is kampioen reun. Erika Goedhals, organiseerder van die Boerboelskou het gesê: "Ek glo Riversdal-boerboelskou is nou uit sy kinderskoene."
Hereford
Die Hereford opperste kampioen is vanjaar deur Phillip de Waal gewen met sy kampioen koei.
Een van De Waal se bulle het 'n ton geweeg en het die senior kampioen Hereford-afdeling gewen.
'n Welverdiende soen vir 'n eersteplek. Foto: Elza Thiart-Botes, korrespondent
Hoenders
Eienaardige hoenderrasse het gekompeteer om te sien wie aan die einde van die dag gaan koning kraai.
Vanjaar was die beste inskrywing op skou 'n swart Australorp. Dié eienaar is Ewert Kleynhans van Heidelberg. Fanie Le Roux van Riversdal se Malay Game het baie aandag getrek.
Working on Fire het gedemonstreer hoe hulle reageer tydens 'n brand.
Perde
Die perde het weereens vir groot opspraak gesorg. SA Vlaamperde met hul 8-span wa het toeskouers aan die gons gehad.
Die groot kampioen vyfgang saalperd was Night of clouds met vertoner Junior Hugo en eienaar Rianie Scoltz.
Tertius Le Roux van Riversdal se Suid-Afrikaanse miniatuurperdjies was verseker 'n gunsteling.
Eendag as ek groot is...maar vir nou pas ek net in die wiel. Foto: Elza Thiart-Botes, korrespondent
Die president Kobus Gerber het gesê: "Daar is baie goeie groei in getalle oor die algemeen vanjaar.
"Dankie aan die publiek wat toeskouers was en die skou ondersteun het. Ek is so gelukkig as wat mens kan wees. Met so sterk en goeie bestuur kan dit net beter gaan."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'