RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal-tuinbouklub het Woensdag 15 April hul maandelikse uitstappie aangepak met 'n verkwikkende wandeling langs die gewilde Garcia-wandelroete onder Garciapas.
Hoewel reën die oggend uitgesak het, het dit nie die entoesiastiese tuinliefhebbers afgeskrik nie.
Toegerus met reënjasse en sambrele het die groep die natuurroete met groot geesdrif aangedurf.
Die gemaklike wandelpad kronkel deur pragtige fynbos, oor klein waterstroompies en bied asemrowende uitsigte oor Riversdal en die bekende Sleeping Beauty-bergpiek.
Ná die verfrissende stap het die groep 'n besoek aan Muiskraal-olyfplaas gebring, waar hulle op 'n begeleide toer deur die produksiefasiliteite geneem is.
Die oggend is op 'n gesellige noot afgesluit met worsbroodjies en lekker kuier.
Die Riversdal-tuinbouklub kom maan-deliks vir uitstappies, gesprekke en aktiwi-teite oor tuinmaak en verwante onderwerpe byeen.
Lidmaatskap beloop R100 per jaar en nuwe lede is welkom.
Die klub se volgende byeenkoms vind op Woensdag 20 Mei by die De Doornkraal Vinotel plaas en fokus op die nuutste neigings en praktiese idees in tuinmaak.
Die tema handel oor funksionele tuinmaak en hoe kosplante tussen sierplante geïntegreer kan word.
Twee bekende sprekers, met meer as 30 jaar ervaring, Lucretia van der Walt en Vlam van Deventer, sal die gehoor toespreek.
Die geleentheid duur van 09:30 tot 12:30 en kos R150 per persoon, wat tee en verversings insluit.
Vir meer inligting of om aan te sluit, WhatsApp Elmarie Van den Berg by 082 884 6968 of Annatjie Joubert by 082 771 9372.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’