HESSEQUA NUUS - Terugvoer van die Polisie:
Vermiste baba teruggevind
Geen formele klag is nog gelê in verband met die baba wat Dinsdag 10 Oktober by Albertinia-kliniek weggeraak het, maar kort daarna weer gevind is nie, aldus sers. Ciska Badenhorst.
Die saak is wel aan die kinderbeskermingseenheid, Da Gamaskop vir ondersoek gerapporteer.
"'n Pasiënt het die kliniek met haar eenjarige kind besoek en vir 'n ander pasiënt gevra om na haar kind om te sien terwyl sy die badkamer besoek het.
"Toe die ma van die kind van die badkamer terugkeer om haar kind te kry, was die kind weg," verduidelik Nadia Ferreira, mediawoordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid.
Die polisie is in kennis gestel en die kind is ongedeerd buite die kliniek gevind en die persoon is gearresteer.
"Ons is dankbaar dat hierdie traumatiese voorval 'n goeie uiteinde gehad het. Ons wil ons pasiënte maan om, soos wanneer hulle by enige ander openbare plek is, altyd paraat te wees," sê Ferreira.
RIVERSDAL
Daggavonds
Polisielede het Sondag 15 Oktober inligting opgevolg van dagga wat by twee persele in Durbanstraat gekweek word. Met aankoms is beslag gelê op 11 daggabome in die agterplaas by die een perseel en 'n 56-jarige manspersoon is gearresteer.
By die perseel langsaan is 31 daggabome ook in die agterplaas gekonfiskeer. 'n 32-Jarige vrou is gearresteer. Beide het Maandag 16 Oktober in die hof op aanklag van handeldryf in dagga verskyn.
Dwelms
Die afgelope maand is op groot hoeveelhede dwelms beslag gelê. In een geval is 700 mx tablette en 214 gram Tik gekonfiskeer en 'n verdagte gearresteer, wat nog in aanhouding is. Op 6 Oktober is 'n ander verdagte met 30 mx tablette gearresteer.
"Ek doen 'n beroep op die gemeenskap om nie wegsteekplek aan dwelmsmouse vir hul dwelms te gee, of gesteelde goedere te koop of ontvang nie.
"Jy maak jouself net so skuldig soos die misdadiger self en kan daarvoor aangekla word," waarsku lt.kol. Delicia Isaacs, stasiebevelvoerder.
Die Riversdal-polisielede is van links: konst. Christiaan Jansen, reservis konst. Edwin Kortje, konst. Gwenlin Paulsen, a.o. Rhyno Jacobs en sers. Deon Jacobs
Roekeloos en/of nalatige bestuur
Lede het Vrydag 13 Oktober teen ongeveer 15:00 op 'n klag van gesinsgeweld gereageer waar die slagoffer aangerand en gewurg was.
Die verdagte is in Martin Johnsonrylaan opgemerk, maar toe hy die polisievoertuig gewaar het hy in Petuniastraat afgehardloop.
Die lid het hom agternagesit, maar toe hy wegswaai en rem het die voertuig na regs getrek.
Hy kon nie betyds stop nie en in die proses teen 'n lamppaal gebots. Niemand is in die voorval beseer nie. 'n Saak van roekeloos en/of nalatige bestuur word ondersoek.
Aanrandingsaak
Die onderwyseres van Panorama Primêr is aangekla vir die aanranding op een van haar leerders gedurende Augustus vanjaar en is 'n boete opgelê, aldus Boer van Rensburg van die speurtak.
Volgens Paddy Attwell, mediawoordvoerder van die Wes-Kaap departement van onderwys, is die departement nog besig om die beweerde aanranding te ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'