STILBAAI NUUS - Die Planksaal was vir byna sestig jaar 'n integrale deel van vakansies in Stilbaai. Solank daar mense leef wat die dae van die Planksaal meegemaak het, sal daar met weemoed en soete herinneringe oor hierdie baken gepraat word.
Vir baie was dit 'n droewige dag toe daar in 1971 verklaar is dat die gebou gevaarlik vir openbare gebruik geword het en gesloop moes word.
Volgens Helene Steyn in haar boek Stilbaai was ds. JF Truter van Riversdal een van die eerstes wat vir hom 'n strandhuis op Wes-strand laat bou het. Hy het van die begin af toegesien dat daar Sondae eredienste gehou word.
In 1912 het 'n aantal huiseienaars besluit om 'n permanente onderdak vir aanbidding te bekom en geld vir dié doel ingesamel.
Die broers Jaap en Stefaans Dekenah is aangestel om die gebou op te rig, met die hulp van talle vrywilligers wat die boumateriaal na die perseel moes vervoer.
Die stutte waarop die gebou gerus het, is in die melkhoutbos gekap en te voet deur die ruigtes aangedra. Die planke is met ossewaens vanaf Riversdal vervoer, oor die rivier geroei in platboomskuite en daarna strandlangs deur die jong seuns aangedra.
Sonder swier het vakansiegangers vir meer as 'n halfeeu in hierdie saal aanbid. Hier was almal welkom om dienste by te woon - sonder hoed en selfs sonder skoene. Dit was dan ook nie lank nie of die saal het bekend gestaan as die "kaalvoetkerk".
Die Planksaal is ook gebruik vir onvergeetlike verskeidenheidskonserte wat vir baie jare deur Dot de la Bat en Duxi Joubert op die planke gebring is.
Teen die middel van die 1950's het die Planksaal tekens van onstabiliteit begin toon en dringende herstelwerk is onderneem met fondse wat deur vakansiegangers geskenk is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’