TUINROETE | KAROO NUUS - Ou bekendes, maar ook 'n paar nuwe stemme, gaan feesgangers by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 29 Maart tot 3 April vermaak.
Die program is effe kleiner, maar bied steeds volop om in elke feesganger se smaak te val. Dis die 26ste aanbieding van die fees, maar weens die Covid-19-pandemie kon dit nie die afgelope twee jaar aangebied word nie.
Die feesprogram is Saterdagaand by Surval bekendgestel aan sowat 100 genooide gaste en ook landwyd virtueel uitgesaai.
KKNK vereer
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, het ook die name aangekondig van die individue wat by vanjaar se fees vereer gaan word.
Die gewilde en alombekende akteur Frank Opperman word met die Kunste Onbeperk-prys vereer vir vertolking.
Opperman, wat bekendheid verwerf het as Ouboet in Orkney snork nie, is afgevlieg om as seremoniemeester op te tree. Hy was duidelik uit die veld geslaan toe Theart sy naam bekend maak.
"Ek het nog vir my vrou gesê al die effort net om vir 'n halfdag af te vlieg na Oudtshoorn en nou dié groot verrassing. Maar dis cool om vereer te word en jy besef mense waardeer jou nog."
Opperman gaan te sien wees in Ek wens, ek wens as die begrafnisondernemer Zirk van den Berg se gelyknamige novelle wat in teater verwerk is.
Nic Barrow, 'n stigterslid van die KKNK, word vereer vir sy bydrae tot dié fees en sal saam met Joy Phillips (Jong Stem) en Mary Sibande (vanjaar se feeskunstenaar) formeel by die kunstefees vereer word.
Waarna om uit te sien
Sekerlik een van die hoogtepunte is die terugkeer, ná 'n afwesigheid van 12 jaar, van Nataniël met sy debuutvertoning Prima Donna met die opening op 29 Maart. Hy gaan 'n keur uit sy ikoniese musiek, wat oor die afgelope 20 jaar deel van sy landwye vertonings was, uitvoer.
Nog 'n hoogtepunt vanjaar is Ek, Anna van Wyk, wat opgevoer word ter nagedagtenis aan en huldiging van Pieter Fourie, die eerste feeshoof van die KKNK. Hy is onlangs oorlede.
Marthinus Basson behartig die regie hiervan asook dié van Terminaal 3 van die internasionaal bekroonde skrywer Lars Nóres met onder andere Anna-Mart van der Merwe, André Roothman en Stian Bam wat rolle vertolk.
Die ikoniese Sandra Prinsloo sal in Spertyd, 'n produksie ter ere van die ontslape Elsa Joubert te sien wees. Sy sal ook in haar gewilde en bekroonde eenvrouvertoning Oscar en die pienk tannie verskyn.
Nóg twee ikone, wat albei vanjaar hul 70ste verjaardae vier, Antoinette Kellermann en Antjie Krog, sal ook in aksie wees. Kellermann bied Die oerkluts kwyt, 'n woordkunsaanbieding met Krog se digkuns aan.
Die halwe huis is 'n eenman-vertoning geskryf deur die Oudtshoorn-boorling, Ricardo Arendse, met nóg 'n Oudtshoorn-boorling, Marlo Minnaar, in die hoofrol.
Iets wat beslis groot aftrek gaan kry, is Karoo Kaarte, 'n produksie uit die Volstruisdorp. "Dis deel van 'n projek wat die hart van die fees sal wees vanjaar," sê Theart.
Verskeie Oudtshoorniete word hierby ingespan. Karoo Kaarte is onder leiding van die bekroonde skrywer en regisseur Neil Coppen en die visuele kunskurator Vaughn Sadie. Vier verskillende streekdialekte word gebruik wat nog nooit voorheen op die verhoog gehoor is nie.
Om die lagspiere te prikkel, sal ou bekendes soos Marc Lottering, Schalk Bezuidenhout en Lizz Meiring ook optree.
As musiek jou siel roer, sal Coenie de Villiers en André Schwartz se Grensloos jou belangstelling prikkel.
Ander musiekhoogtepunte is Karen Zoid met 'n akoestiese konsert, Spoegwolf, Emo Adams en sy Take Note-orkes en Elvis Blue. En dan natuurlik ou hande soos Amanda Strydom en David Kramer, wat net twee vertonings van David Kramer vanaand sal lewer.
By Laerskool Wesbank sal 'n uitgebreide kinder- en jeugafdeling in verskillende skoolvertrekke en ook in die buitelug aangebied word.
Kaartjies vir die feesterrein is R50 per persoon per dag.
Coenie de Villiers (bo)en André Schwartz se Grensloos sal feesgangers se belangstelling prikkel. Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'