RIVERSDAL NUUS - 'n Besoeker wat vir 'n begrafnis in die dorp was, is Saterdagoggend 12 Augustus beroof.
Jandré Steyn van Oudtshoorn was vir die naweek, as deel van 'n orkes, vir die begrafnis van Dean Saptouw in Riversdal.
Steyn was op pad huis toe, maar het van besluit verander toe hy deur kennisse genooi is om saam met hulle te kuier.
By die woning is hy aangerand en van sy oorringe, klere, skoene en selfoon beroof. Aangesien dit sy eerste besoek aan Riversdal is, het hy weggehardloop en tussen die aalwynbosse gaan skuil. Sy vriende het hom gesoek en die polisie in kennis gestel dat hulle hom vermis. Na puik werk deur die polisie is hy opgespoor, asook sy gesteelde eiendom.
Volgens die plaaslike mediawoordvoerder, sers. Edwina Heskwa, is een manspersoon in hegtenis geneem.
Hy het Maandag 14 Augustus vir die eerste keer in die hof verskyn en die saak is na Maandag 21 Augustus uitgestel wanneer hy vir 'n borgtogaansoek in Riversdal-landdroshof sal verskyn.
Hy is in aanhouding in George-gevangenis tot dan. Die ondersoekbeampte is speurder Wayne Arries.
ARTIKEL: KEITH EKSTEEN, KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa news'