Dié vergadering vind plaas op Donderdag, 3 Desember by die Rolbalklub langs die Heidelberg gholfbaan om 10:00 met voorleggings deur Conservation@work, asook Grootvadersbosch en Duiwenhoks Bewareas.
Dit is goeie nuus vir grondeienaars wat indringerplante moet uitroei vir eko-toerisme, asook vir eko-toerisme in die gebied. 'n Bewarea is 'n vrywillige ooreenkoms tussen grondeienaars en grondgebruikers om bewaringsdoelwitte te bereik.
Dit word geregistreer, adviseer en ondersteun deur CapeNature. Grootvadersbosch is 'n goeie voorbeeld van wat op gemeenskapsvlak bereik kan word en het onlangs 'n goue toekenning ontvang as die bes-bestuurde bewarea in die provinsie.
Chris van der Walt, betrokke by die Eden Bewarea noem dat daar oor die afgelope jaar indringerplante op 509ha verwyder is, asook 10km van Buffeljagsrivier.
"Mense is opgelei en werk van 9 684 persoonsdae is geskep. Hulle het reeds 140km van wandelpaaie en bergfietsroetes gebou met 75 houtbruggies oor waterstrome en grensdrade."
'n Groep bure tussen Klipdrift en Zeekoegat het in Junie byeengekom en 'n loodskomitee gevorm om die bewarea-konsep te ondersoek. "Die aanvanklike teikengebied het uitgebrei vanaf Grootvadersbosch, berglangs tot by Gysmanshoek en Oudebosch Gasteplaas digby die Korentepoortdam - 'n afstand van sowat 25km."