SLANGRIVIER NUUS - 'n Werker van Hessequa-munisipaliteit op Slangrivier is Donderdagaand, 25 November ongeveer 17:30 deur 'n ontstoke lid van die gemeenskap aangerand terwyl hy sy pligte uitgevoer het.
Die inwoner was blykbaar ontsteld omdat die werker so laat met die watertrok hul gebied met water kom voorsien het.
Buiten 'n blou oog moes die slagoffer, Gertuan Hoogbaard ook agt steke op sy onderlip kry en sy gesig was erg opgeswel. Die ambulans was spoedig op die toneel en het hom na Riversdal-hospitaal vervoer.
Hoogbaard het te midde van groot ontevredenheid wat tans hier, maar ook op Heidelberg oor die swak kwaliteit en soms nie-beskikbaarheid van die water heers, slegs sy werk gedoen om dienslewering aan sy gemeenskap te bied. Die waterkrisis in beide dorpe kom nou al 'n paar weke aan en is inwoners al baie gefrustreed omdat hulle so met water moet sukkel.
"Dit is met groot teleurstelling dat die munisipaliteit van die aanranding moes verneem," het Didi Budricks, mediawoordvoerder gesê. "Hierdie gedrag is onaanvaarbaar, net so onaanvaarbaar soos dit vir 'n munisipale werknemer is om 'n lid van die publiek aan te rand of met aanranding te dreig."
'n Saak van aanranding is by Heidelberg-polisie geopen en volgens Budrick sal die munisipaliteit regsondersteuning aan die werknemer verskaf.
Lede van die publiek word aangeraai om munisipale personeel met dieselfde eerbied te behandel as wat aan lede van die publiek getoon word. Enige voorval van aanranding of dreigemente van aanranding teenoor 'n munisipale personeellid sal strafregtelik vervolg word.
Die aangeklaagde het Dinsdag, 30 November op die aanklag in die plaaslike landdroshof verskyn. Die saak teen Kirvan Pieters is tot Maandag, 13 Desember uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'