RIVERSDAL NUUS - Die Evangeliese Lutherse kerk, Riversdal, het hul 150ste stigtingsdagdiens op Dinsdag 15 Mei gevier.
Die gemeente is deur sendeling Daniel FS Heese op 15 Mei 1868 begin na gesprekvoering met dominee Borcherds. Leiers van die bruin gemeenskap, Peter Pietersen en Kleinhans is instrumenteel tot die stigting.
Eerw. Heese koop op 10 Julie 1868 'n onvoltooide kerkgebou. In Langstraat word erf 3073 op 7 Oktober 1868 by sakeman CPA Lourens aangekoop. Die dubbelverdieping eiendom word gebruik as pastorie en sendingskool.
Die kerkie geleë te Solomonstraat word op 14 Augustus 1869 sonder enige skuld ingewy. Dit word gebruik tot 1908 waarna dit dien as 'n saal. In 1967 is die saal verkoop aan die ou Apostoliese kerk, aangesien die gebou in die blanke woongebied geleë was, volgens die destydse groepsgebiede wet.
Eiendom word in 1888 aangekoop waarop 'n pragtige kerkgebou gebou word. Die hoeksteenlegging vind op 10 Desember 1907 deur die burgemeester, D. Versfeld plaas.
In 1908 word die sierlike kerkgebou voltooi teen 'n koste van £2 800. Die aanvanklike bedrag waarvoor daar begroot is, was £2 600.
Die pastorie word op 25 Mei 1972 verkoop aan G. North & Son, 'n landboumaatskappy. Die rede daarvoor was dat die pastorie ook in die blanke woongebied geleë was.
Die kerk se basuinkoor was 'n bekende gesig in die gemeenskap. In Van Riebeeckstraat (Sunnyside) word eiendom aangekoop en word 'n kapel gebou. Onder die vaandel van die kerk word agt skole gestig en bedryf, naamlik Holbak, Novo, Adamskraal, Muiskraal, Wadrift, Keurfontein (distrik Albertinia), Lutherse Berlynse Sendingskool (tans Voorwaarts Primêr) en Van Wyksdorp Lutherse Berlynse Sendingskool. Vandag bestaan slegs Voorwaarts en Laerskool Van Wyksdorp.
Buitestasies van die kerk word op Albertinia, Wegwysersrivier, Holbak, Plattekloof, Novo, Van Wyksdorp, Adamskraal en Miertjieskraal gestig.
Viering sluit in
Mej. Luther, asook Mnr. Spiere was op Woensdag 16 Mei gekies. Gratis potjiekos met stoepstories word op Donderdag 17 Mei bedien.
'n Dans vind op Vrydag 18 Mei in die burgersentrum plaas. Vir die gesin vind 'n sportdag op Saterdag 19 Mei by Riverville-stadion plaas.
Die hoogtepunt is die feesdiens wat gelei sal word deur biskop MZ Manong, biskop van die Kaap-Oranje bisdom met sy amptelike setel in Kimberley op Sondag 20 Mei. Fees aandenkings sal te koop wees en die boek aangaande die kerk se geskiedenis word op 31 Oktober bekendgestel.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'