Update
STILBAAI NUUS - Die wonderwêreld van lasers het 'n heel nuwe betekenis gekry toe prof. Ilsa Basson van Vleesbaai dit op Maandag, 27 Februarie, vir die U3A Stilbaai-lede oopgemaak het.
Ilsa het haar na haar aftrede in Vleesbaai kom vestig, maar dit is duidelik dat haar brein nog nie afgetree het nie. Vir 'n uur lank het sy die gehoor aan haar lippe gehad terwyl sy die tegniese terminologie in gewone taal verduidelik het.
Die woord laser is 'n afkorting vir "light amplification by stimulated emission of radiation."
Sy vertel wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar het al in 1905 sy beslag gekry toe Albert Einstein op 26-jarige ouderdom die foto-elektriese effek ontwikkel het. Hiervoor het hy in 1921 die Nobelprys ontvang.
In 1953/54 het Charles Townes Maser op 39-jarige ouderdom mikrogolwe ontwikkel. Hy het die Nobelprys in 1964 ontvang en is in 2015 op 99-jarige ouderdom oorlede.
Albei van hulle was nog baie jonk toe hulle hierdie deurbrake gemaak het.
Dit was egter eers in 1960 dat Theodore Maiman die "solid state" laser ontwikkel het en dis ook hier waar die lasermasjien van 'n kolos met 'n gewig van 2,5 ton verklein is na een wat 1,8kg geweeg het.
In 1962 is laser ingespan om die afstand na die maan te meet en hulle het by 384 400 km uitgekom.
Militariste regoor die wêreld gebruik laser nou al op 'n daaglikse basis.
In die winkel skandeer die kassiere jou aankope deur middel van laser. Goed soos cd's en dvd's gebruik laser, maar dit is nou amper net die ouer mense wat dit nog gebruik.
In die mediese veld word laser byvoorbeeld gebruik vir oogchirurgie en ook bloedlose chirurgie. Nierstene word daarmee "geskiet". Kankerbehandeling, tandheelkunde en kosmetiese chirurgie is van die ander mediese gebruike waar laser ingespan word.
In die metaalindustrie kan 'n laser deur 100 mm vlekvrye staal sny, so akkuraat dat staalratte presies gesny word.
In die vermaaklikheidsindustrie word laservertonings aangebied en kunswerke word met laser gemaak.
Uit hierdie praatjie is dit duidelik dat Albert Einstein al in 1905 begin het om ons hedendaagse lewe so gemaklik te maak en dan wonder mens hoeveel ander uitvinders het nooit die voorreg gehad om die eindgebruik van hulle uitvindsel te beleef nie.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'