STILBAAI NUUS - Wêreld-asmadag word jaarliks op 1 Mei gevier om mense meer bewus te maak van asma en die behandeling daarvan.
Soos verlede jaar het dr. Corli Lodder van George, wat spesialiseer in allergie en asma, kragte saamgesnoer met Laerskool Bertie Barnard en tussen haar en juffrou Annalize de Villiers van Bertie Barnard het hulle 'n tekenkompetisie gehou met die Hartlief- en gr. R tot gr. 3 kinders. Die tema was blomme, troeteldiere en die tuin.
Die tekeninge is beoordeel deur Nadine Hansen van Stilbaai-galery en die wenners in die onderskeie grade was as volg:
Hartliefklas: Eerste was Esté van der Merwe, tweede was Alvino Benn en derde was Johnathan September.
Graad R: Eerste was Fia Fourie, tweede was Stephanie Janse van Rensburg en derde was Corlize van Huyssteen.
Graad 1: Eerste was Maggie Moore, tweede was Matthew Brits en derde was Megan Orsmond.
Graad 2: Eerste was Nicolas Nel, tweede was Sakkie Odendaal en derde was Alina Motley.
Graad 3: Eerste was Joel Dinkelman, tweede was Joshua Hayman en derde was Stephanie Johnson.
Elkeen van hulle het 'n geskenkbewys van die borge Cipla, Blombos Apteek, Immunospec en die Allergy and Asthma Institute van George ontvang waarmee hulle iets kon gaan koop by Tabeel.
Die skool bedank dan ook die borge vir hulle betrokkenheid om die tekenkompetisie 'n sukses te maak.
Dr. Corli Lodder het in haar praatjie beklemtoon dat dit nie nodig is vir asmalyertjies om op die pawiljoen te sit as hulle maatjies aan sport deelneem nie. Met die regte behandeling kan hulle 'n normale lewe lei.
Suid-Afrika het die vyfde hoogste asmasterftesyfer in die wêreld. Een van die groot oorsake daarvan is omdat asmalyers nie vinnig genoeg by die regte fasiliteite uitkom nie. Asma begin dikwels as 'n allergie en dit word sterk met hooikoors geassosieer.
'n Aanhoudende, benoude droë hoes kan 'n aanduiding van asma wees. Dit is 'n kroniese inflammasie soos jig, maar sonder die pyn.
Sy het bygevoeg dat gewone mense, sowel as gesondheidswerkers, nie altyd genoeg kennis dra om asma in toom te hou nie. Daarom is NAEP (National Asthma Education Program) in 1989 gestig. Dit is 'n nie-winsgewende organisasie wat poog om onpartydige inligting rakende asmadiagnosering en behandeling aan gesondheidswerkers en die algemene publiek oor te dra.
Die NAEP bied ook kursusse, inligtingsessies en vergaderings aan om gesondheidswerkers en die publiek ingelig te hou.
Graad R se wensketse.
Graad 1 se wensketse.
Graad 2 se wensketse.
Graad 3 se wensketse.
Hartliefklas se wensketse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’