STILBAAI NUUS - Die Vriende en Familie-komitee van Huis Stilbaai, onder leiding van Hennie Slabbert, het onlangs hulle baie gewilde Bangers & Mash-aand ten bate van Huis Stilbaai gehou.
Hierdie jaarlikse fondsinsameling lê vir Hennie baie na aan die hart en vanjaar was sy entoesiasme weereens voelbaar deur die loop van die aand.
Die klubhuis by die gholfklub het gesorg vir ’n pragtige uitsig oor Lappiesbaai en die orkes het diegene wat nie so nootvas was nie laat glo hulle is Pavarotti.
Almal het lustig saamgesing en daar was lanklaas soveel vrolikheid by die gholfklub.
Die varkworsies en kapokaartappels het net die regte energie verskaf om die aand ’n klinkende sukses te maak.
Die aand het R23 170 opgelewer wat aan Huis Stilbaai oorhandig is.
Hennie Slabbert het in sy persoonlike hoedanigheid R10 000 geskenk, die etes het R8 250 opgelewer, wegneemetes het R570 bygedra, die veiling het gesorg vir R2 500 en dan is daar ook ’n losprys van R1 850 vir ’n man betaal.
Aangesien die staatsubsidies aan Huis Stilbaai en ander soortgelyke instansies tot op die been gesny is, is elke sent wat hulle kan kry uiters noodsaaklik en hierdie skenking gaan beslis ’n paar gaatjies vul.
Huis Stilbaai is bevoorreg om so ’n aktiewe Vriende en Familie-komitee te hê en kan nie hulle dank genoeg betuig nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’