HESSEQUA NUUS - Kansa Suid-Kaap Karoo gaan gedurende September 'n kinderkankerbewusmakingsveldtog aanbied.
Deelnemende skole sal finansieel by die veldtog baat vind. Dit sal strek vanaf Glentana tot Slangrivier. Dit is hul doel om gedurende die tyd die streek te betower in 'n gloed van goud - die kinderkankerbewusmakingskleur.
"Ons het dit goed gedink om aan alle leerders 'n goue strikkie, wat deur ons voorsien sal word, te koop aan te bied teen 'n vasgestelde prys, wat vooraf met skole ooreengekom sal word. Die geld wat ingesamel word sal dan eweredig tussen die deelnemende skool en Kansa verdeel word."
"Die skool kan dus hul gedeelte van die inkomste gebruik vir eie gewin," verduidelik Lucinda Viljoen, gemeenskapsmobiliseerder.
Kansa sal verantwoordelik wees vir die bemarkingsveldtog en die verspreiding van die strikkies na die skole. Deelnemende skole sal dus hul strikkies reeds gedurende Augustus ontvang, met die idee om dit regdeur September as deel van die bewusmakingsveldtog te dra.
Kanker is nie aansteeklik of oordraagbaar nie. Die meeste kankers tydens kinderjare kan meer suksesvol behandel word indien dit vroeg opgespoor word. Kanker tydens kinderjare word veroorsaak deur genetiese en omgewingsfaktore.
Leukemie is die mees algemene kanker onder kinders van alle rasse in Suid-Afrika. Ander algemene kankers tydens kinderjare sluit in - kanker van die bindweefsel, oog, senuwees, lewer, niere, spiere en skelet.
Behandeling veroorsaak 'n onderdrukte immuniteit in kinders met kanker wat kan lei tot lang periodes van afwesigheid van die skool.
Kinders het die reg om groot te word in 'n rookvrye wêreld - inaseming van tweedehandse rook is skadelik.
Die rook van sigarette en waterpype (hubbly bubbly) is veral skadelik vir kinders.
Vir meer inligting en deelname, skakel Viljoen by 082 66 33 529 of e-pos by lucinda@cansa.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'