RIVERSDAL NUUS - Die bloeddiens het Donderdag 10 November weer hul sakkies kom volmaak by die Thusong-sentrum.
In totaal het 50 mense bloed geskenk waarvan daar vier nuwe en 44 gereelde skenkers was. Nege kon ongelukkig as gevolg van verskeie redes nie bloed skenk nie.
Elisma Human skenk al 'n geruime tyd bloed, maar sukkel so af en toe met lae bloeddruk. Dit hou haar egter nie terug nie, want elke keer gaan sy maar net weer met die hoop dat sy kan skenk.
"Vandag is my 32ste keer wat ek bloed skenk. Hulle toets die bloed en as dit nie reg is nie word dit eenvoudig nie gebruik nie," sê Elizma.
Simoné Francis voel dit is belangrik om bloed te skenk, daarom was dit haar 15de skenking en sy glo dat daar nog baie sal wees. "Dis vir 'n goeie doel en kan iemand se lewe red," beklemtoon sy.
Interessant om te weet is dat een sakkie bloed drie mense se lewens kan red. So, waarom is daar so min mense wat gewillig is om lewens te red?
Jy kan niks verloor nie, want die bloedbank ontvang alle bloed-groepe met ope arms. Volgende keer as hulle weer in jou omgewing is, maak seker dat jy ook 'n verskil maak.
Heinrich Prins (bloedbank) en Simoné Francis besig om 'n verskil te maak.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'