HEIDELBERG NUUS - Kindersorg SA se plaaslike tak benodig dringend veiligheidsouers wat 'n tydelike hawe vir verwaarloosde kinders in nood kan bied.
Mariska Stols, 'n maatskaplike werker by die instansie, doen 'n beroep op inwoners om hul harte en huise vir die dorp se kinders oop te maak.
"'n Veiligheidsouer is iemand wat oor naweke na 'n kind of kinders wat sorgbehoewend is en onmiddellik uit hul omstandighede verwyder moet word kan omsien," sê sy.
Voornemende veiligheidsouers sal gekeur word om seker te maak hulle is geskik om die rol te vervul. Hulle sal ook opleiding oor hoe die kinders hanteer moet word, ontvang.
Kindersorg het in 1907 na aanleiding van kinders wat afgeskeep of verlaat word ontstaan. Sedertdien het talle kantore regoor die land tot stand gekom om kinders ongeag ras, klas en geloof in die gees van vrywilligheids-werk by te staan. In 1924 is die SA Nasionale Raad vir Kinder- en Gesinsorg geskep met die doel om die sorgdienste te koördineer.
Enigiemand wat betrokke wil raak kan Kindersorg by 028 722 2396 kontak, of 'n faks na 028 722 1899 of e-pos aan cwsaheidelbergwc@telkomsa.net stuur.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'