Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Onderwyseres van Panorama Primêr staar 'n klag van aanranding in die gesig omdat sy na bewering 'n 10-jarige leerder met 'n bloekomlat geslaan het.
Sers. Edwina Heskwa, kommunikasiebeampte van die Riversdal-polisie, het bevestig dat 'n saak van aanranding teen 'n onderwyser op Vrydag 25 Augustus aanhangig gemaak is.
Die pa van die seun het in 'n onderhoud aan Suid-Kaap Forum gesê dat sy seun Donderdag gedurende pouse vir hom springmielies gekoop het, maar hy kon dit nie opeet voor die klok gelui het nie en het hy dit onder sy sweetpakbaadjie ingedruk.
In die klas wou hy sy uitveër uit sy sak haal, waarop van die springmielies op die grond geval het.
"Hy het gebuk om dit op te tel en dit weer in sy sak gedruk, waarna hy sy vingers afgelek het omdat van die suiker daaraan vasgeklou het. Die onderwyser het dit opgemerk en vermoed dat hy in die klas geëet het, waarop sy hom met 'n dik bloekomlat oor sy hande begin slaan het. Sy het gesê dat sy 'moeg vir hul nonsens is'," het die pa vertel.
Die seun het die middag toe hy tuis kom, vir sy oudste broer van die voorval vertel, maar dit was eers die aand toe sy ma aan sy hand vat en hy sê dat dit baie seer is, dat sy sien hoe geswel dit is.
Die prinsipaal, mnr. Jacob Kellies, het aan die koerant gesê dat hy dit vreemd vind dat die ouers dit eers Maandag aan hom rapporteer het. "Ek kan egter geen kommentaar lewer nie. Ek het dit aan ons kringbestuurder gerapporteer."
In kommentaar op 'n navraag wat die koerant aan die Wes-Kaap onderwys departement gerig het, het die kommunikasiebeampte, Millicent Merton, gesê dat die departement lyfstraf in 'n baie ernstige lig beskou.
"Ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet is lyfstraf onwettig.
Die beweringe word ondersoek en die departement sal dienooreenkomstig optree."
Suid-Kaap Forum het die onderwyseres herhaaldelik op haar selfoon geskakel om haar die geleentheid te bied om haar kant te vertel, maar sonder enige sukses.
Lees 'n vorige artikel: Onderwyser van aanranding aangekla
ARTIKEL: WILMA ADAMS, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'