RIVERSDAL NUUS - Die konstitusionele hof se uitspraak op 18 September dat lyfstraf tuis ongrondwetlik is, het uiteenlopende reaksie ontlok.
Daar is diegene wat saamstem dat lyfstraf grens aan mishandeling, terwyl ander glo die staat kan nie vir 'n mens voorsê wat in sy eie huis moet gebeur nie - veral nie as die Bybel sê 'n kind moet getugtig word nie.
Suid-Kaap Forum het gaan uitvind wat die gemeenskap daaroor sê.
Chris Botha (45) van Riversdal glo lyfstraf - binne perke - is nodig. “Van lyfstraf uitfaseer is, het misdaad direk geklim.” Volgens hom was dit ‘lanklaas’ in sy huis nodig om lyfstraf toe te pas - sy kinders is immers al onderskeidelik 23 en 21, terwyl die jongste 13 is. “Vir party kinders werk lyfstraf nie, maar ander het dit dalk nodig. Tensy dit met liefde toegepas word, het dit nie die nodige uitwerking nie.”
Dawid Pedro: ‘Sommige mense glo jy moet die plathand inlê.’
Dawid Pedro (55) van Swellendam sê dis ’n teer punt om aan te raak. “Die saak het twee kante: ek is ’n mens wat glo jy moet ’n saak uitpraat; ander mense glo jy moet die plathand inlê.” Volgens hom is dit nie onderwysers se verantwoordelikheid om kinders dissipline te leer nie, dit moet tuis vasgelê word. “Onderwysers se taak is om die kinders te onderrig en hulle het reeds hul hande vol. Kinders moet by die huis gedissiplineer word - dis die ouers se plig.”
Christiaan Smith: ‘Dis die ouers se plig om kinders te dissiplineer.’
Christiaan Smith (75) van Korenterivier meen kinders moet dissipline by die huis leer lank voor hul skool toe gaan. “Dit moet begin word met godsdiens sodat kinders respek vir hul ouers, onderwysers en ander mense sal hê. Dis nie ’n maklike taak om skool te hou nie - kinders pleeg moord, want hulle ken nie dissipline nie.” Aan die ander kant moet ’n volwassene darem ook so optree sodat hy gerespekteer kan word. Maar hy sê nie of jy moet slaan of nie...
Elzette Smith: ‘Dié meneertjie weet waar hy met my staan.’
Elzette Smith (31) is ma van ’n jong seun. “Ek het nie met geweld in die huis grootgeword nie, want meestal was ’n pak nie nodig nie. Tog dink ek ’n pak op sy tyd kan ’n ongeskikte kind nie skade doen nie, want soms is dit nodig. Ek slaan nie my seun nie, maar dié meneertjie weet waar hy met my staan, al is ek as enkelma die ma en die pa in die huis.”
John Paulsen: ‘Praat, moenie slaan nie.’
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'