HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit spog met ses blouvlagstrande wat die gesogte internasionale akkreditasie ontvang het.
Lappiesbaai en Preekstoel te Stilbaai, Witsand en Gouritsmond het volle blouvlagstatus verwerf en het Jongensfontein en Stilbaai-Wes loodsstatus ontvang.
Blouvlagstatus beteken dat strande skoon en veilig is en aan internasionale veiligheids- en toerismestandaarde voldoen. Volgens die munisipaliteit is blouvlagstatus 'n lokmiddel vir toerisme, omdat internasionale besoekers weet wat om te verwag wanneer hulle só strand besoek.
Die blouvlagprogram word gekoördineer deur Wessa (Wildlife and Environment Society of South Africa) en is 'n onafhanklike internasionale paneel verantwoordelik vir die evaluering en aanwysings daarvan.
Plaaslike munisipaliteite se rol is om strande aan die streng vereistes van die blouvlagprogram te laat voldoen.
Wessa se vier hoofvereistes is kwaliteit van water, omgewingsopvoeding en inligting, omgewingsbestuur en veiligheid, asook diensteverskaffing.
Die blouvlagseisoen sal strek vanaf Desember 2018 tot Januarie 2019 en sal lewensredders op die strande aan diens wees.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'