HEIDELBERG NUUS - 'n Tweede kans op 'n beter lewe na 'n lyding van 14 jaar het sers. Karen Pretorius (43), bekende plaaslike polisiebeampte te beurt geval toe haar jongste suster, sp.konst. Donmary Roberts 'n nier aan haar geskenk het.
Die operasie is op 28 November in die Chris Barnard-hospitaal uitgevoer. Pretorius is in 2013 met nierversaking gediagnoseer, nadat in 2003 bevind is dat sy lupus onder lede het. Sy moes sedert 2015 drie dae per week vir dialise op Mosselbaai gaan.
Roberts is na 'n week uit die hospitaal ontslaan, terwyl Pretorius 'n week na haar suster ontslaan is. Hulle is die dogters van Patrick en Bessie. Karen vertel dat sy vir al drie haar susters lief is, maar na die onbaatsugtige geskenk van Donny is sy nóg liewer vir hul babasuster.
Volgens Karen was die afgelope twee jaar baie uitmergelend, maar kan sy die Here nie genoeg dank vir die suksesvolle afhandeling van die operasie nie. "Die merke op my arm is 'n stille getuienis van wat ek moes deurmaak tydens die dialise, maar te danke aan Donny is dit nie meer nodig nie."
Roberts het gesê dat sy nie vir een oomblik gehuiwer het om die operasie te ondergaan om haar ousus se lewenstandaard te verbeter nie.
Hul ma vertel dat dit vir hulle as gesin 'n moeilike tyd was, maar dat hulle as ouers groot dank aan beide Donny en haar man, Devoroh verskuldig is.
Karen doen 'n dringende beroep op almal om orgaanskenkers te word, aangesien dit so belangrik is om lewens te red.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'