RIVERSDAL NUUS - Plaaslike inwoners het Donderdag 8 September 44 eenhede bloed by die Westelike Provinsie Bloeddiens (WPBD) se maandelikse kliniek in die Thusong-sentrum geskenk.
Altesaam 52 skenkers het opgedaag om ook hul deel te doen om lewens te red met hul skenking. Agt is weggewys weens siekte of wat op medikasie was. Daar was geen nuwe skenkers nie.
Arlecia November van die WPBD het aan Suid-Kaap Forum gesê een eenheid bloed kan tot drie lewens red aangesien dit in drie dele - rooibloedselle, bloedplasma en bloedplaatjies - geskei word.
Sy sê bloedskenk is veilig, sonder enige ongemak of pyn, en daar is geen risiko vir infeksies nie.
Die hele proses duur ongeveer 20 minute waarna 'n skenker onmiddellik sy daaglikse aktiwiteite kan hervat. En jou liggaam vervang die bloed wat jy skenk natuurlik.
Gisela Ahlers van Riversdal lyk heel vrolik terwyl sy haar deel bydra om die WP Bloeddiens se voorraad aan te vul. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'