Hierdie kompetisie het sedert dit vier jaar gelede begin het met 'n skamele vier spanne ontplof tot 'n totaal van 24 spanne vanjaar.
En die belangrikste van alles is dat die jeug dit geniet en dat daar elke jaar 'n groter aantal spanne inskryf. Deur hierdie liga aan te bied, doen die rolbalklub baie om, behalwe vir die koue wintermaande, een keer per week gesonde, genotvolle ontspanning vir ons mense aan te bied. Alhoewel daar nie om pryse meegeding word nie, het Joubert oogkundiges vanjaar tog besluit om 'n bedrag te borg as 'n soort van 'n aansporing vir die spanne om nog beter te doen.
En Max Baise het ook 'n paar bottels wyn geskenk. Moenie 'n fout maak nie, van die mense het sommer puik rolbal gespeel.
Hartlik geluk aan die wenners, die Time Freight Pakkiespan, met Bartho van Dyk, Faffa Marais, Danie van der Nest, en André la Cock. Tweede was Alpha Fin se span met Bertin Pretorius, Dian Loftie-Eaton, Dirkie Pretorius, Jannie Pfaff, en Frik Erasmus. Die laasgenoemde twee spelers het om die beurt gespeel vir die span. Derde was die span van Boshoff-Visser wat bestaan het uit Debbie Adams, Suretha Francis, Mauricia Olckers, en Francois Damons. Pieter Sambo was die reserwe speler. Langeberg Vensters se span was vierde.
Die winterkoue hou almal tuis tot in September wanneer die stryd weer sal begin. Almal wat nog nie deelgeneem het aan hierdie pret nie, besef nie wat hulle mis nie en word hartlik uitgenooi om solank spanne bymekaar te kry vir September. Speltyd is elke Donderdagaand vanaf 18:00 vir ongeveer 'n uur.

Die Time Freight Pakkiespan wat die eerste plek ingeneem het in die plaaslike Besigheidsliga van die rolbalklub.