STILBAAI NUUS - Namate die winterkoue sy tande wys, neem die behoefte aan warm klere en komberse in die gemeenskap toe. Badisa Stilbaai doen daarom 'n dringende beroep op inwoners om ongebruikte wintersklere, beddegoed en komberse aan Baaija vir Biekie, die organisasie se liefdadigheidswinkel, te skenk.
Kinderklere, wintersklere vir volwassenes, baadjies, truie, serpe, handskoene, komberse en beddegoed - ongeag die grootte of toestand, mits dit nog bruikbaar is - kan 'n groot verskil maak aan iemand wat hierdie winter teen die koue moet veg.
Baie huishoudings het klere en komberse wat nie meer gebruik word nie en bloot kasruimte opneem. Deur dit te skenk, kry hierdie items 'n tweede lewe en help dit om mense in nood warm te hou.
Die fondse wat deur verkope by Baaija vir Biekie ingesamel word, word deur Badisa Stilbaai aangewend om verskeie projekte en hulpverlening in die breër Stilbaai-gemeenskap te ondersteun.
Elke skenking, groot of klein, dra by om hoop en warmte te bring aan mense wat dit die nodigste het. Hierdie winter kan 'n jas wat nie meer gedra word nie of 'n ekstra kombers in die kas vir iemand anders van onskatbare waarde wees.
Badisa moedig inwoners aan om hul kaste deur te gaan en enige bruikbare wintersklere, beddegoed of komberse by Baaija vir Biekie af te lewer. Saam kan die gemeenskap verseker dat minder mense hierdie winter die koue hoef te trotseer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’