Oor minder as twee maande van vandag sal die sewende algemene verkiesing pas afgehandel wees en sal ons as Suid-Afrikaners in spanning wag op die uitkoms van samesprekings tussen verskillende politieke partye waarmee die toekoms van die land grootliks bepaal sal word.
Alles dui daarop dat 'n koalisie-regering ons voorland is, maar watter kant toe sal die skaal swaai?
Met dit in gedagte kom skrop die Engelse idioom "(be) careful what you wish for" en die satiriese oorlogsnovelle deur Joseph Heller, Catch-22, onmiddellik nes in 'n mens se gedagtes. 'n Kort verklaring van die idioom is dat mense ordentlik moet dink voor hulle wens vir iets om te gebeur. Wanneer jy dit wel kry, is dit moontlik dat jy dit nie eintlik wou gehad het nie. "You think having twins would be fun? Be careful what you wish for, you may just get it".
As voorbeeld.
Met die registrasie van politieke partye vir vanjaar se verkiesing om iewers op 'n stembrief verteenwoordig te word, het die Veelparty Handves (VPH) bykans 40% van sy potensiaal in ondersteunende "partye" verloor toe vier van die elf partye nie genoeg handtekeninge (14 000) kon bymekaar skraap om deel van die stemproses te wees nie. Dit opsigself het klaar vrae laat onstaan oor hoe sterk en effektief die VPH werklik is om die ANC te daag en uit sy magsposisie te probeer dwing. Hoe wankelend ookal.
Direkte opposisie
Dat die ANC weens verskeie onbeholpe redes en absoluut deur eie toedoen besig is om 'n sneltrajek te volg om mag af te staan, is 'n feit. Maar 'n verderere feit is dat geen samestelling van enige koalisie in direkte opposisie in dié stadium sterk genoeg is om dié party op sy en die land se selfvernietigingstog te stuit nie.
Kompromieë sal ná die verkiesing aangegaan móét word om Suid-Afrika weer op koers te kry sodat die nodige herstel kan begin plaasvind.
En dís waar Heller se Catch-22 gestalte begin kry. Terwyl al hoe meer stemme begin geluide maak oor 'n moontlike koalisie tussen die ANC en die DA, is dit juis wat mense nie wil hoor nie.
Hoekom nie?
Iewers sal die handbriek opgetrek moet word en daar sal met nugtere denke na die situasie gekyk moet word.
Daar is nog gematigdes (baie min) in die ANC en dit kan perdalks die skaal in die regte rigting swaai voor 'n weerbarstige radikale rooi golf die land in 'n Tsunami verswelg met die stukrag van 'n nog meer radikale MK, wat pas die hekke van die tronk vrygespring het.
Heller se parodie oor een van die karakters (Clevinger) in sy boek skryf hy: "Die bewyse teen hom was onteenseglik. Al wat gekort het was iets om hom mee aan te kla".
Iewers lui daar klokkies. Phala-Phala (Cyril Ramaphosa), Alexandra Mafia (Paul Mashatile), Bossa (Gwede Mantashe), NFSAS (Blade Mzimande), Travelgate, SANW (Nosiviwe Mapisa-Nqakula), Estina en Asbes (Ace Magashule), Jacob Zuma (Nkandla en Wapenskandaal), Huurooreenkomste, R500 miljoen (Bheki Cele) en Digital Vibes, R150 miljoen (Zweli Mkize). Almal hoogaangeskrewe leiers met selfs 'n voormalige president, wat intussen die tatoeërmerk as 'n tronkvoël bygekry het.
Kinders se toekomste
Dis van ons huidige en voormalige leiers. Daar is nog meer van hulle. Dié lys is alles vervat in die Zondo-kommissie se verslag van meer as 5 000 bladsye. Ysingwekkend dat 'n land met sulke leiers mee moet saamleef. Ons kinders se kinders se toekomste mag nie deur sulke boewe bepaal word nie.
Kom die ANC net-net onder 50% in en smee 'n verbond met die EFF of die Jacob Zuma-gedrewe MK-party, kan ons maar die deure toetrek en die sleutels weggooi. Dan is Suid-Afrika gedoem en Chanél nr. 666 sal maklik en welriekend muishond-status se reuke verbysteek. Die feit dat 36% van buitelandse beleggingsmaatskappye tans in dié situasie investering terughou in afwagting op die uitslag van die verkiesing, is bewys van die onsekerheid oor Suid-Afrika. Dit maak nie saak hoe mooi Cyril praat en die beloftes wat hy maak nie. Die wêreld skuld ons niks nie.
Met 'n waardelose rand, steeds stygende elektrisiteit- en brandstoftariewe, word ons nie meer gesien as die baba wat gehelp moet word nie.
Die badwater is lankal uitgegooi en ons moet onsself begin afdroog. Die dae toe daar in dié ontwykende reënboog belê is om op die been te kom, is nie meer 'n opsie nie. Die harde werklikheid van 'n ontluikende mislukte staat staar ons in die gesig en dit is wat die res van die wêreld raaksien.
Met vyf van Suid-Afrika se stede, Pretoria, Johannesburg, Durban, Port Elizabeth en Kaapstad onder die twintig mees geweldadige metropole in die wêreld, kan niemand die res van die wêreld kwalik neem dat hulle al hoe meer huiwer om hier te belê nie.
Wat is die oplossing? Niemand weet eintlik nie. Dit is hoe broos die politiek in dié stadium in Suid-Afrika is.
Op 29 Mei 2024 sal die kruisies sonder voorbehoud reg getrek moet word.
Anders...
Spoeg en Plak word deur 'n onafhanklike kommentator aangebied en weerspieël nie noodwendig die Mossel Bay Advertiser se siening nie.
- Colin Hoffmann