Die afgelope week het die Mossel Bay Advertiser berig oor die 9-jarige Yaleen Maré, wat op 14 Oktober spoorloos verdwyn het nadat haar pa, Jacob (34), haar by haar skool op Hartenbos opgetel het.
Met die skryf van die rubriek, was Yaleen en Jacob steeds vermis.
Sy het op die betrokke dag ná skool tennislesse gehad waarna sy skaakoefening sou hê. Haar pa het haar glo na die tennis opgetel. Die ma is nie ingelig nie.
Yaleen se ma het gery om haar op te tel ná die skaakoefening. Sy was skoonveld.
Hoe moet dit voel om te ry om jou kind op te tel en sy is nie daar nie? Daar waar jy haar gewoonlik optel, elke dag?
Yaleen se pa en ma is ongeveer twee jaar gelede geskei. Net meer as 'n jaar gelede het die ma, Yaleen en die twee jonger boeties hulself op Mosselbaai kom vestig. Dit was veronderstel om die begin van 'n nuwe lewe te wees.
Om nege te wees
My dogter is 11 jaar oud en in dieselfde skool as Yaleen. Toe die nuus breek, het ek dadelik gedink aan my dogter en toe sy dieselfde ouderdom as Yaleen was. Daar is net twee jaar verskil, maar ek het probeer onthou hoe sy toe as kind was. Op die ouderdom van nege.
Nege is so 'n onskuldige ouderdom. Dit is 'n ouderdom waar kinders nog onomwonde glo. Hulle glo in Kersvader en die tandemuis. Hulle glo nog die lewe is mooi.
Ek onthou toe ek nege was. Dit was sorgvry. Ek het smiddae ná skool met my maltese poedel, Spokie, in ons agterplaas gespeel. Ek het gedagdroom en in my geestesoog gesien hoe ek eendag 'n polisievrou word wat met die K9-eenheid se honde sou werk.
Dan het ek vir Spokie jumps gebou met houtpale. Met leë verfblikke en sy moes daaroor spring.
In my beroep word ons gereeld met verskillende tipe tragedies gekonfronteer.
Ek onthou goed die storie wat ek moes dek, enkele dae ná die dood van my geliefde pa in 2021.
Die seun wat by Diasstrand verdrink het.
My hart was stukkend oor my pa.
Die onderhoud met Jason Nomdo se ma was die eerste storie waaraan ek moes werk.
Haar hart was ook stukkend. Haar seun se liggaam was soek. Die NSRI en polisieduikers het gedoen wat van hulle vereis is. Sonder sukses.
Aangrypend vir my was Jason se ma wat vir my gesê het sy sal nie rus tot sy haar kind kry nie.
Sy het elke dag etlike kilometers tussen Diasstrand en Hartenbos gestap en bly soek.
Op dag vier het sy met een van haar staptogte iets tussen die rotse gewaar. Dit was Jason se liggaam.
Jason was ook nege, nes Yaleen.
Die regte ding
Wat alles tussen Yaleen se ouers gebeur het, sal net hulle weet. Dit is egter nie reg om jou kind by die skool te gaan haal, sonder dat haar ma weet, sonder dat haar boeties, onderwysers of maats weet, en sonder dat jou kind kon voorberei of haar tas kon pak nie.
Maak nie saak wat tussen twee ouers gebeur nie. 'n Volwasse mens gaan haal nie jou kind en ry met haar weg sonder dat jy die ander ouer se instemming het nie. Dit is nie reg nie.
Dit is ook in dié geval onwettig.
Toe ek nege was, en my pappa kom haal my by die skool, sou ek ook saam met hom gegaan het. Want op nege is jy net 'n onskuldige kind, wat lief is vir jou pappa en lief is vir jou mamma, al is hulle nie meer saam nie.
Op nege wil jy met jou hond speel en dagdroom. Jy wil nie op nege die pion word wat tussen twee ouers staan nie. Jy het op nege ook nog nie die emosionele vermoë om sin te probeer maak van die seer van die lewe nie.
Jason se storie was 'n tragedie. Die rippeleffek van wat met dié familie gebeur het, is 'n ramp.
Ek het in die nag vir Yaleen gebid. Vir haar hartjie wat baie seer moet wees oor alles wat met haar gebeur.
Die onsekerhede wat sy moet ervaar en oor die groot mense wat hulself eerste stel en nie vir haar nie.
Ek het ook gebid vir haar ma wat na haar kind soek.
En vir haar pa.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.