RIVERSDAL NUUS - Vyf lede van die Suikerbekkie-Voortrekkerspan vertrek op Woensdag 1 Julie na Wemmershoek, waar hulle die laaste fase van hul Presidentsverkenner-toekenning sal voltooi - die hoogste prestasie wat ’n Verkenner in die Voortrekkers kan behaal.
Die kamp vind van 1 tot 5 Julie plaas en al vyf kandidate is uitgenooi om deel te neem, nadat hulle die vereiste Hoofleierswag-eksamen geslaag het.
Tydens die kamp sal hulle geëvalueer word op verskeie aspekte van leierskap, vaardighede en persoonlike ontwikkeling geskoei op die grondslag van die Voortrekkers naamlik:
Afrikanerskap, Burgerskap, Christenskap en Diensbare Leierskap.
Met die suksesvolle voltooiing van die kamp, sal hulle die gesogte
Presidentsverkennertoekenning ontvang.
Die toekenning word beskou as een van die hoogste eerbewyse binne die Voortrekkerbeweging en getuig van jare se harde werk, toewyding en deursettingsvermoë!
Daar istydens die kwartaalafsluiting en vlagstrykingseremonie op Maandag 22 Junie aan die span erkenning gegee en is hulle sterkte toegewens vir die kamp.
Die prestasie van die vyf jong Voortrekkers is ’n besondere mylpaal vir die Suikerbekkie-span asook die Riversdal-kommando en dien as inspirasie vir jonger lede wat daarna streef om dieselfde hoogtes te bereik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’