RIVERSDAL NUUS - ’n Vinnige en goed gekoördineerde optrede deur Riversdal-polisie het in die vroeë oggendure van Donderdag 20 November tot ’n belangrike dwelmklopjag gelei.
Omstreeks 03:45 het lede van B-Skof, onder leiding van konst. Jason Jacobs en konst.
Ayden Opperman, saam met buurtwaglede Bradley Afrika en Ronald Witbooi, die gebied bokant Douglas Joseph-straat binnegedring.
’n 40-jarige man is in hegtenis geneem nadat tik en kontant by hom gevind en op beslag gelê is.
Die verdagte is in aanhouding vir handel in tik en het op Vrydag 21 November in die hof verskyn.
Die stasiebevelvoerder, lt. kol. Delicia Isaacs, het die betrokkenes gelukgewens met die uitstekend uitgevoerde arrestasie en die samewerking tussen die polisie en buurtwag geloof.
“Dit is ’n skande dat sommige gemeenskapslede hierdie soort handeling goedkeur.
Pasop dit raak jou familie ook,” het Isaacs gewaarsku.
Sy het verder die gemeenskap bedank vir hul volgehoue ondersteuning: “Sonder julle kan ons nie suksesvol wees nie.”
Die ondersoek duur voort.
Enigiemand met inligting rakende dwelmhandel in die area word versoek om dit vertroulik aan die polisie te rapporteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’