STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-parkrun is sekerlik een van dié mooiste roetes, maar tydens hoogwater ook baie uitdagend.
Dit is wanneer die drawwers wegspring met net dik, los sand onder hul voete en uiteindelik klaarmaak in dieselfde dik, los sand.
Die pragtige roete maak egter van hierdie hindernis 'n lekker uitdaging, en 545 drawwers en stappers het Saterdagoggend, 27 Desember, opgedaag vir die 5 km-wedloop.
'n Nie-geregistreerde hardloper het eerste klaargemaak, met Phillip Maree van Stilbaai net ná hom in 'n tyd van 18:37.
Die eerste vroueatleet was Niané van Niekerk in 'n tyd van 21:40, in slegs haar tweede Stilbaai-parkrun.
Nadine Bird, die no drie vroue-driekampatleet van Roemenië, was die vyfde vrou oor die wenstreep. Sy is die dogter van Francois en Renette Furstenburg van Stilbaai.
Hardlopers kan nou uitsien na die NSRI se 5 km- en 10 km -wedlope op Woensdagoggend, 31 Desember.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’