Volgens die persoon behoort Witsand nie die status ontvang het nie aangesien dit na bewering nie op standaard is nie.
In 'n skrywe aan die koerant word daar genoem dat daar blykbaar geen instandhoudingsplan blyk te wees nie en aangesien die besighede in Witsand afhanklik is van toerisme, dit meer ‘n seeroog as ‘n Blouvlagstrand is en dus van geen waarde is vir toerisme of plaaslike besighede nie.
Daar word uitgewys dat die sement wandelpad reeds vir twee jaar in stukke opgebreek en klaarblyklik eenvoudig in die see ingestoot is. Verder voer die persoon aan dat 'n plaaslike restaurant se houtdek die voetpad na die strand letterlik oorgeneem het, tot nadeel van toeriste wat dit gewoonlik gebruik het.
Die stortgeriewe en sementvloer in die badkamer is ook na bewering nie op standaard nie en vra die persoon hoe Witsand aan Blouvlagstrand kriteria kon voldoen?
In die skrywe word verder gevra wie die evaluering van die strand behartig het, wanneer die evaluering gedoen was en wie opdragte gegee het rakende die Blouvlagstrand in voorbereiding vir die strand se evaluering. 'n Afskrif van die evalueringsvorm is vanaf Hessequa munisipaliteit aangevra om vas te stel of die strand wel aan kriteria voldoen of nie.
Die skrywe is afgesluit dat aangesien die strand munisipale eiendom is, hulle volgens die persoon direk verantwoordelik is indien die strand onveilig en vuil is en dat dit in almal se belang is dat dit op standaard is.
Munisipale kommentaar:
Suid-Kaap FORUM het die bogenoemde navraag aan die Hessequa munisipaliteit gestuur, wat soos volg reageer het:
Mnr. Johan Jacobs, munisipale bestuurder van Hessequa noem dat Blouvlagstatus 'n internasionale toekenning is wat toegeken word aan strande vir hul uitnemendheid in veiligheid, fasiliteite, sindelikheid en omgewingsvriendelike standaarde.
Volgens hom word die Blouvlagprogram gekoördineer deur die Wildlife and Environment Society of South Africa (WESSA) in vennootskap met die Departement Omgewingsake en Toerisme (DEAT).
Jacobs beklemtoon dat 'n onafhanklike internasionale paneel verantwoordelik is vir die evaluering en aanwysings van Blouvlagstrande aan munisipaliteite wat deelneem aan die program en is plaaslike munisipaliteite se rol om strande aan die streng vereistes van die Blouvlagprogram te laat voldoen.
WESSA se vier hoofvereistes vir 'n Blouvlag is volgens hom kwaliteit van water, omgewingsopvoeding en inligting, omgewingsbestuur en veiligheid en diensteverskaffing.
Hy noem aan Suid-Kaap FORUM dat die Hessequa munisipaliteit tans besig is om kwotasies in te vorder om die sementpaadjie te vervang. Die ablusiesfasiliteite is volgens Hessequa in 'n goeie toestand vir die feesseisoen. "Krane word gedurende die jaar verwyder om watervermorsing te voorkom en water te bespaar, maar is teruggesit vir die komede seisoen," sê hy.
Jacobs bedank die departement van paaie, stormwater, parke en oorde vir hul harde werk deur die jaar om die strande op Blouvlagstandaard te bring.
Hy sluit af met "Die Hessequa streek kan trots wees op ons Blouvlagstrande".
Die Blouvlagseisoen vir Hessequa munisipaliteit begin op 1 Desember vanjaar en eindig 31 Januarie 2013. Beide Witsand en Lappiesbaaistrand in Stilbaai het volle Blouvlagstatus hierdie jaar verwerf. Verdere inligting rondom die Blouvlagprogram kan op WESSA se webblad verkry word by www.wessa.org.za.

Die houtplank voetpad is toegewaai met seesand, wat dit vir besoekers bemoeilik om op te loop.
ARTIKEL: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS