HESSEQUA NUUS - Altesaam 16 munisipale amptenare het hul AET-sertifikate tydens die 2016/2017 Adult EducationTraining-gradeplegtigheid op Vrydag 6 Oktober op Riversdal ontvang.
Die spoggeleentheid is deur Hessequa-munisipaliteit, in samewerking met diensverskaffer Siyaphambili Training Solutions aangebied.
Gedurende 'n vaardigheidsoudit in 2012 van die munisipaliteit se amptenare is bevind dat 24% van die werkerskorps nie gr. 9 voltooi het nie.
Die munisipaliteit se afdeling: menslike hulpbronne het die afgelope drie jaar gefokus op geakkrediteerde onderrig van die amptenare en is 'n kontrak met 'n diensverskaffer gesluit om hulle die geleentheid te bied om dié kwalifikasie te verwerf.
Die munisipaliteit het by Local Government Sector Education and Training Association (LGSeta) vir finansiering aansoek gedoen en is die geleentheid aan belangstellende amptenare gegee om na-ure opleiding te ontvang.
Diegene wat reeds hul gr. 9 verwerf het, het die geleentheid aangegryp om hul kennis in wiskunde en Engels te verbeter.
Tydens die drie jaar periode is hul familielede ook die kans gegun om deel van die program te wees, wat beteken dat amptenare saam met hul eggenote of kind die leerprogram kon voltooi.
Munisipale opleidingsbeampte Lemona Kleinhans noem dat amptenare twee keer per week na-ure klasse bygewoon het, maar dat die verskeie opofferings hulle nie gestuit nie.
Die groep het almal hul opleiding suksesvol voltooi.
Die gemiddelde slaagsyfer vir die tydperk is 85%. Die uitvoerende onderburgemeester Johannes Hartnick, munisipale bestuurder Johan Jacobs, en direkteur korporatiewe bestuur Marina Griesel, het die geleentheid namens die munisipaliteit bygewoon.
"Die munisipaliteit is werklik trots op die amptenare en wens almal geluk met hul onderskeie prestasies," het Jacobs tydens die geleentheid gesê.
Die sertifikate is deur Aneeka Jacobs van LGSeta, Hartnick, Jacobs en Griesel aan die presteerders oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'