VERMAAKLIKHEID NUUS - Gemoedere het verlede Donderdag, 30 Oktober, hoog geloop toe bekommerde ouers 'n vergadering belê het oor die beweerde onveiligheid van die Vermaaklikheid-skoolbus en sy roete na skole in Riversdal.
Volgens verskeie ouers is die bus dikwels laat of daag glad nie op nie - selfs tydens die belangrike eindeksamen van die matrieks.
Daar is ook ernstige veiligheidsklagtes geopper: die bus het glo al aan die brand geslaan terwyl leerders in die bus was, die remme het al versuim om te werk, vensters val glo uit op passasiers en een van die wiele het selfs al uitgeval.
'n Video is ook aan Suid-Kaap Forum gestuur waar die bus se wiel aan die brand is.
Ouers beweer en vra vrae
'n Ouer het verder beweer dat die bus, ten spyte van hierdie probleme, steeds daagliks gebruik word - iets wat groot kommer wek vir ouers wat nie ander maniere het om hul kinders by skole te kry nie.
Ouers wil weet wie kyk of die busse wat hul kinders vervoer padwaardig is en hoe gereeld dit gedoen word, sodat hulle rustiger kan wees wanneer hul kinders op pad en terug van die skool vervoer word.
Die kringbestuurder, Nias du Plessis, wat namens die skole in die area optree, het bevestig dat 'n opvolgvergadering beplan word, hoewel die datum nog vasgestel moet word.
Suid-Kaap Forum het verneem dat dieselfde busdiens al voorheen vir ander oortredings gewaarsku is.
Munisipaliteit tree op
Volgens terugvoering van Hessequa-munisipaliteit aan Suid-Kaap Forum, plaas Riversdal se verkeersdienste padveiligheid hoog op hul prioriteitslys.
Na ontvangs van verskeie klagtes is roetine-inspeksies op die spesifieke bus uitgevoer,
en ná die vergadering met ouers is die betrokke bus geskut.
Die voertuig sal verder by die provinsiale voertuigskut in George ondersoek word.
Die publiek word aangemoedig om enige soortgelyke veiligheidskwessies onmiddellik by die munisipaliteit se verkeersafdeling aan te meld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’