STILBAAI NUUS - Die hawe in Stilbaai was Woensdagoggend, 3 Desember, die ene bedrywigheid toe die Militêre Akademie se Trans Enduro-spanne gereed gemaak het om na Struisbaai te vertrek.
Tydens 'n vroegoggend parade het die speaker van Hessequa-munisipaliteit, Tinus van den Berg, die dag se verrigtinge amptelik met 'n kort motiveringsboodskap geopen en 'n brief van welwillendheid, namens Hessequa-munisipaliteit, aan die Akademie oorhandig.
Daarna het Riaan Malan, senior toerisme ontwikkelingsbeampte van Hessequa-munisipaliteit, die seespan met hulle rubberboot, 'n fietsryspan en 'n drafspan afgesit op hulle roete na Struisbaai.
Die Masiza-span het die dag by Ouma Lena se Huis in Melkhoutfontein spandeer waar hulle die speelgrond opgradeer het en ook na die tuine omgesien het. Voordat hulle vertrek het, het hulle ook 'n klompie noodsaaklike items aan Ouma Lena se Huis geskenk.
Die blikkiesskud span beweeg ook saam om fondse in te samel vir hulle gemeenskapsprojekte.
Volgens die woordvoerder van die Trans Enduro-spanne, 2Lt. MC Kwinda, het hierdie been van hulle oefening die hart van Trans Enduro - diens, eenheid en betekenisvolle gemeenskapimpak gewys.
Sy sê dat met die inspirasie wat hulle uit Stilbaai gekry het en die ondersteuning van Hessequa-munisipaliteit pak die spanne die res van die oefening met hernude ywer aan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’